Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 14:1-6 Die Boodskap (DB)

1. “Samaria sal betaal vir sy skuld. Hy het mos met sy God baklei. Die vyand sal sy mans met swaarde doodmaak. Sy kinders sal uitgeroei word. Hulle sal vroue wat babas verwag met swaarde oopsny.”

2. “Israel, jy moet teruggaan na die Here jou God toe. Jou sonde het jou laat struikel. Dit het jou op die grond laat val.

3. Kom na God toe en sê vir Hom dat jy verkeerd was. Kom terug na die Here toe. Bid tot die Here: “Vergeef ons tog al ons sonde. Ons is jammer daaroor. Aanvaar tog ons verskoning oor ons sonde. Ons belydenis is die offer wat ons bring om ons sake met U weer reg te stel.

4. Assirië kan ons nie red nie. Ons kan nie op ons weermag en ons wapens vertrou nie. Ons kan nooit weer vir die gode wat ons met ons eie hande gemaak het, sê ‘My god’ nie. ’n Kind wat niemand het om vir hom te sorg nie, kan maar net by U die liefde en die versorging kry wat hy nodig het.”

5. Die Here sê: “Ek sal die siekte wat jy gehad het, gesond maak. Ek sal genesing bring. Jy sal nie weer wil wegloop van My af nie. Ek sal jou vreeslik liefhê. Ek sal glad nie meer vir jou kwaad wees nie.

6. “Ek sal vir Israel wees soos die dou wat ’n lelie laat blom. Sy wortels sal hom so stewig anker soos die bome teen die Libanonberg geanker is.

Lees volledige hoofstuk Hosea 14