Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 2:6-14 Die Boodskap (DB)

6. Die Here sê: “As die hemel, die aarde, die see en die droë grond weer op ’n keer skud en bewe, sal julle weet dat Ek by julle is. Dit sal julle daaraan herinner.

7. Ek sal al die nasies se regerings laat ondergaan. So sal hulle kosbare skatte in die tempel beland. Ek sal hierdie huis van My ’n plek maak wat mense sal bewonder. Hulle sal aanvoel dat Ek daar is in my grootheid.

8. Maar daar is nog iets wat julle moet weet: dit is dat al die silwer en die goud op aarde in elk geval Myne is.

9. Mense sal in die toekoms hierdie tempel wat nuut gebou is, nog meer bewonder as die oorspronklike een. In hierdie land waar my huis staan, sal my volk vrede en voorspoed geniet. Ek sal daarvoor sorg!”

10. Op 18 Desember 520 v.C., weer in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here nog ’n opdrag vir Haggai gegee.

11. Hy moes na die priesters toe gaan met ’n probleemvraag en hulle moes die antwoord gee.

12. Die probleem was die volgende: “Sê nou maar iemand dra ’n stuk vleis wat aan die Here geoffer is in sy jas en hy raak per ongeluk met sy jas aan ander kos, soos brood, gekookte kos, wyn of olie, of enige ander soort kos. Sal dit dan beteken dat hierdie ander kos nou ook aan die Here toegewy is soos dit die geval met die vleis is?”Die priesters het nie getwyfel nie en het geantwoord: “Nee.”

13. Toe vra Haggai verder: “As iemand besmet is omdat hy aan ’n lyk gevat het en hy raak nou aan al hierdie kos wat genoem is, is die kos dan nou ook vuil?”Die priesters se antwoord op die vraag was: “Ja.”

14. Toe het Haggai begin verduidelik wat die Here wou hê sy volk moet verstaan. Hy het gesê: “Die mense is vuil en besmet. My volk is vuil en besmet. Alles wat hulle doen en waaraan hulle raak, is besmet.”

Lees volledige hoofstuk Haggai 2