Ou Testament

Nuwe Testament

Habakuk 2:13-20 Die Boodskap (DB)

13. Die Here het mag oor die hele wêreld. Hy sal alles waarvoor volke so hard gewerk het en soveel moeite voor ingesit het, in vlamme laat opgaan. Niks sal daarvan oorbly nie.

14. Oral waar mense in die wêreld is, sal die gevoel hulle oorweldig om te weet dat die Here daar is.

15. Slegte dinge wag vir julle, Babiloniërs! Julle wat in julle woede julle buurvolke se swakhede uitbuit en hulle dan in die openbaar sleg laat lyk. Hulle kan hulleself nie verdedig nie.

16. Maar julle sal self in die skande kom, al verwag julle eintlik dat ander mense julle met respek moet behandel. Kry van julle eie medisyne! Die Here sal julle straf. Hy sal sorg dat in plaas daarvan dat ander mense en volke baie van julle sal dink, hulle niks van julle sal dink nie.

17. Julle het onverantwoordelik met die natuur gewerk. Julle het wild en wakker bome afgekap en wilde diere doodgemaak. Nou is dit julle beurt om misbruik en doodgemaak te word. Dit is julle straf vir die moorde wat julle oral gepleeg het en die rowwe manier waarop julle met mense in stede gewerk het.

18. Dit sal nie help om julle afgodsbeelde te aanbid nie. Gewone, sterflike mense het hulle gemaak. ’n Mens bedrieg jouself as jy in sulke beelde glo. Hulle kan dan nie eens praat nie.

19. Daar wag slegte dinge vir mense wat vir ’n lewelose beeld van hout of klip sê: “Word wakker, kom aan die gang!” ’n Afgodsbeeld kan mos nie vir julle nuwe dinge bekendmaak of goed laat verstaan wat julle vroeër nie verstaan het nie. Nie eens die feit dat die beelde met goud of silwer oorgetrek is, maak dat hulle iets besonders is nie. Hulle bly leweloos!

20. Dit kan julle weet, daar is niemand so besonders soos die Here nie. Hy is by sy volk teenwoordig en daarom moet alle mense op aarde liewer uit respek vir Hom stilbly.

Lees volledige hoofstuk Habakuk 2