Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 50:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Josef het op sy pa gaan lê en terwyl hy huil, het hy Jakob se gesig gesoen.

2. Josef het toe beveel dat sy pa se liggaam gebalsem moet word.

3. Dit het 40 dae geduur. Dit was maar die normale tyd wat dit in Egipte geduur het om ’n liggaam te balsem. Al die Egiptenaars het 70 dae oor Jakob gerou.

4. Na die routyd het Josef vir die koning se amptenare gesê: “As julle van my hou, gaan sê vir die koning my pa het voor sy dood my laat belowe dat ek hom in die familiegraf in Kanaän moet gaan begrawe.

5. Ek vra die koning se toestemming om my pa in Kanaän te begrawe. Ek sal dadelik ná die begrafnis terugkom.”

6. Die koning het geantwoord: “Gaan begrawe jou pa, want jy het hom jou woord gegee.”

7. So is Josef daar weg. Al die koning se amptenare, al die senior persone in sy diens en al die leiers in Egipte is saam met Josef Kanaän toe.

8. Josef se eie familie, sy broers en al sy pa se mense het saamgegaan. Slegs die klein kindertjies en die ou mense, asook die skape en bokke, het in die land Gosen agtergebly.

9. Baie ruiters op oorlogswaens en perde het saam met Josef-hulle gegaan. Dit was ’n groot en ’n indrukwekkende groep mense.

10. Toe hulle by Atad aan die oostekant van die Jordaan kom, het hulle eers gestop. Almal het bymekaargekom en weer lank oor Jakob gehuil en gerou. Hulle het sewe dae lank daar gebly en oor Jakob se lewe nagedink en oor hom gerou.

11. Toe die mense van Kanaän sien wat by Atad gebeur, het hulle gesê: “Hoe aangrypend het die Egiptenaars tog nie sewe dae lank oor Jakob gerou nie!” Toe het die mense besluit om die plek se naam na Abel-Misrajim te verander.

12. Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa hulle gevra het: hulle het sy liggaam Kanaän toe gebring en dit neergelê in die grot van Magpela, oos van Mamre, op die stuk grond wat Abraham nog van Efron, die Hetiet, as grafgrond gekoop het.

13. Na die begrafnis is Josef, sy broers en almal wat saam met hom vir die begrafnis Kanaän toe is, weer terug Egipte toe.

14. Na Jakob se dood het die lewe weer sy gewone gang gegaan. Josef se broers was egter onrustig en het vir mekaar gesê: “Sê nou Josef haat ons en hy wil ons terugkry vir alles wat ons aan hom gedoen het?”

15. Hulle besluit toe om ’n boodskap vir Josef te stuur.

16. “Voor sy dood,” so het die boodskap begin, “het Pa gesê ons moet die saak met jou regmaak.

Lees volledige hoofstuk Genesis 50