Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:7-21 Die Boodskap (DB)

7. Toe hy al die woorde van Josef vir hulle gesê het, was hulle verslae. “Hoe kan Meneer dit sê? Ons sal dit mos nooit doen nie.

8. Meneer weet tog dat ons al die geld teruggebring het wat die vorige keer in ons sakke was. Ons het dit die hele pad van Kanaän af saamgedra. Waarom sal ons dan nou silwer of goud uit meneer Josef se huis wil steel?

9. As enigeen van ons die beker het, moet hy beslis doodgemaak word. Die res van ons sal dan vir meneer Josef gaan werk.”

10. Die huisheer het gesê: “Dit is nie nodig nie. Net die een wat die beker gesteel het, sal as slaaf moet agterbly. Die res van julle kan maar huis toe gaan.”

11. Elkeen het toe vinnig sy sak van die donkies afgehaal en dit oopgemaak.

12. Josef se huisheer het toe sak vir sak ondersoek, van die oudste broer se sak tot dié van die jongste. En die beker is in Benjamin se sak gekry.

13. Die broers het uit wanhoop en frustrasie hulle klere begin skeur. Toe het hulle die donkies gepak en is terug stad toe.

14. Toe Juda en sy broers weer by Josef se huis aankom, was hy nog steeds daar. Hulle het voor hom op die grond geval.

15. Josef het vir hulle gesê: “Julle het ’n verskriklike ding gedoen. Ek het die beker nodig om in die toekoms in te kyk en toe loop steel julle dit.”

16. Juda het geantwoord: “Wat kan ons tog sê, Meneer? Ons is sprakeloos. Hoe kan ons ons onskuld bewys? God straf ons nou vir ’n misdaad van lank gelede. Hier is ons dan, Meneer. Ons sal almal hier bly en vir u werk, en nie net die een in wie se sak die beker gekry is nie.”

17. “Glad en geheel nie,” het Josef gesê. “Slegs die een wat die beker gesteel het, moet my slaaf word. Die res van julle kan maar na julle pa toe teruggaan. Niemand sal julle ook meer op die pad hinder nie.”

18. Toe het Juda opgestaan en gepraat: “Ek smeek u, Meneer, luister na my. Ek wil u graag iets vertel. U is net soos die farao en ’n baie belangrike man, maar u moet tog nie nou kwaad of ongeduldig word nie.

19. Toe ons die eerste keer hier was, het u ons gevra of ons ’n pa het of nog ’n ander broer.

20. Ons het gesê dat ons wel ’n pa het en dat hy al oud is. Ons het u ook van ’n jonger broertjie vertel wat ons pa op sy oudag gekry het. En toe het ons ook gesê die jongste se enigste broer is ’n lang ruk al dood. Hulle twee was die enigste kinders van hulle ma en ons pa was baie lief vir die jongste.

21. U het toe vir ons gesê: ‘Gaan haal die jongste dat ek kan sien hoe hy lyk.’

Lees volledige hoofstuk Genesis 44