Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Ons is almal die seuns van een man en ons bedoelings is goed, Meneer. Ons is regtig nie spioene nie.”

12. Josef het weer gepraat: “Ek glo julle nie. Julle het net gekom om te kyk waar die land oop en swak is.”

13. Hulle het weer probeer: “Meneer, kyk na ons. Ons is tog nie spioene nie. Ons is broers. Ons was eers twaalf en almal van dieselfde pa. Hy bly nou nog daar anderkant in Kanaän. Die jongste broer het agtergebly, want hy moes ons pa oppas. En die ander seun, nouja Meneer, ons weet nie meer waar hy is nie.”

14. Josef het aangehou sê: “Ek glo julle nie. Julle is niks anders as spioene nie.

15. Ek sal julle egter ’n kans gee om julle onskuld te bewys. Gaan haal julle jongste broer en bring hom hierheen. Eers as hy hier is, sal ek julle glo. Gebeur dit nie, sweer ek by die farao dat ek julle in die tronk sal stop.

16. Een van julle moet julle broer gaan haal. En die ander bly net hier in huisarres. So sal ek uitvind of julle die waarheid praat en of julle net spioene is.”

17. Daarna het Josef hulle almal summier drie dae lank in die tronk gestop.

18. Op die derde dag het Josef sy broers laat haal en vir hulle gesê: “Doen wat ek vir julle sê en dan sal julle lewe. Dit beloof ek julle, want ek glo in God.

19. As julle werklik eerlik en opreg is, laat een van julle hier bly. Ek sal hom as gyselaar in die tronk hou. Al julle ander kan dan huis toe gaan en kos vir julle honger gesinne gaan gee.

20. Julle moet net met die jongste broer terugkom. Ek sal dan weet julle praat die waarheid en julle sal bly leef.”Almal het saamgestem.

21. Toe het die broers vir mekaar gesê: “Ons kry ons verdiende loon. Daardie middag het ons Josef se groot angs gesien, maar ons het anderpad gekyk. Toe hy by ons gepleit het, het ons gemaak of ons hom nie hoor nie. Dit is waarom ons nou in hierdie groot ellende sit.”

22. Ruben het toe gesê: “Ek het julle gewaarsku om nie die seun seer te maak nie, maar julle wou nie hoor nie. Nou het die uur van rekenskap gekom.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 42