Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 38:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Lank hierna is Juda se vrou, die dogter van Sua, ook dood. Toe hy klaar oor haar gerou het, is hy saam met sy vriend, Gira van Adullam, Timna toe. Hy wou gaan kyk hoe hulle met die skeer van sy skape gevorder het.

13. Iemand het egter vir Tamar gaan sê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe. Hy wil gaan kyk hoe dit met die skeerdery gaan.”

14. Tamar het vinnig opgestaan en haar donker rouklere uitgetrek. Sy het ’n sluier gevat en dit om haar gegooi sodat niemand haar kon herken nie. Toe het sy by die poort van Enaim gaan sit, want dit was op die pad na Timna toe. Sy het dit gedoen omdat sy gesien het dat Sela al groot was en hy het nog nie met haar getrou nie.

15. Toe Juda haar sien, het hy gedink sy is ’n prostituut, want haar gesig was toegemaak.

16. Hy het reguit na haar toe gestap waar sy langs die pad sit en vir haar gesê: “Kom, ek wil by jou gaan slaap.” Juda het natuurlik nie geweet dis sy skoondogter nie.Sy het gevra: “Hoeveel sal jy my betaal?”

17. Juda het geantwoord: “Ek sal vir jou ’n boklam uit my kudde stuur.”Tamar het gesê: “Dis nie genoeg nie. Los iets as waarborg dat jy die boklam sal stuur.”

18. Juda het haar gevra: “Wat wil jy hê moet ek los?”“Jou seëlring met sy kettinkie en jou kierie,” het sy gesê. Hy het dit vir haar gegee en by haar gaan slaap. Tamar het toe ’n kind by hom verwag.

19. Na ’n ruk is Tamar weer terug huis toe. Sy het haar sluier afgehaal en weer die klere van ’n weduwee aangetrek.

20. Juda het toe sy vriend, Gira van Adullam, met die boklam gestuur. Hy moes ook Juda se besittings terugbring. Gira kon Tamar egter nêrens kry nie.

21. Hy het naderhand die plek se mans begin uitvra: “Waar is die prostituut wat by Enaim langs die pad gesit het?”“Daar was nog nooit ’n prostituut hier nie,” het hulle geantwoord.

22. Gira is toe met boklam en al terug en het vir Juda gesê: “Ek het oral gesoek, maar ek kon haar nie kry nie. En die ergste is dat die dorpsmense sê daar was nog nooit ’n prostituut daar nie.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 38