Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 38:1-20 Die Boodskap (DB)

1. In hierdie tyd het Juda besluit om weg te gaan. Hy het sy broers gegroet en is na Gira in Adullam.

2. Daar het hy op ’n Kanaäniet, Sua, se mooi dogter verlief geraak. Hy het met haar getrou en by haar geslaap.

3. Na ’n ruk het sy verwag en toe haar eersteling gebore is, het hulle hom Er genoem.

4. Sy het weer verwag en haar tweede seun Onan genoem.

5. Toe haar derde kind gebore is, het sy hom Sela genoem. Hy is gebore toe hulle in Kesib was.

6. Juda het vir Er, sy oudste seun, ’n vrou gekry. Haar naam was Tamar.

7. Er was egter ’n slegte mens wat die Here seergemaak het. Die Here het hom vroeg laat sterf.

8. Juda het Onan eenkant toe geroep en gesê: “Jy is nou vir jou broer se nageslag verantwoordelik. Gaan slaap by sy vrou en bou so sy nageslag.”

9. Onan wou nie eintlik nie. Hy het goed geweet dat elke kind wat gebore word, nie syne sou wees nie, maar aan sy broer sou behoort. Hy het toe wel ’n paar keer by Tamar gaan slaap, maar hy het elke keer sy saad op die grond laat val en nie binne-in haar nie. So het hy gesorg dat sy broer se nageslag nie uitgebou word nie.

10. Dit het die Here baie ongelukkig gemaak. Hy het Onan ook vroeg laat sterf.

11. Juda het bang geword en vir sy skoondogter gesê: “Miskien moet jy maar weer by jou pa gaan bly. Omdat jy ’n weduwee is, kan jy mos teruggaan. Wag dan daar tot my jongste, Sela, groot is.” Juda het dit gesê omdat hy bang was Sela gaan ook soos sy twee ouer broers vroeg sterf. Tamar het toe al haar goedjies gevat en is terug na haar pa toe.

12. Lank hierna is Juda se vrou, die dogter van Sua, ook dood. Toe hy klaar oor haar gerou het, is hy saam met sy vriend, Gira van Adullam, Timna toe. Hy wou gaan kyk hoe hulle met die skeer van sy skape gevorder het.

13. Iemand het egter vir Tamar gaan sê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe. Hy wil gaan kyk hoe dit met die skeerdery gaan.”

14. Tamar het vinnig opgestaan en haar donker rouklere uitgetrek. Sy het ’n sluier gevat en dit om haar gegooi sodat niemand haar kon herken nie. Toe het sy by die poort van Enaim gaan sit, want dit was op die pad na Timna toe. Sy het dit gedoen omdat sy gesien het dat Sela al groot was en hy het nog nie met haar getrou nie.

15. Toe Juda haar sien, het hy gedink sy is ’n prostituut, want haar gesig was toegemaak.

16. Hy het reguit na haar toe gestap waar sy langs die pad sit en vir haar gesê: “Kom, ek wil by jou gaan slaap.” Juda het natuurlik nie geweet dis sy skoondogter nie.Sy het gevra: “Hoeveel sal jy my betaal?”

17. Juda het geantwoord: “Ek sal vir jou ’n boklam uit my kudde stuur.”Tamar het gesê: “Dis nie genoeg nie. Los iets as waarborg dat jy die boklam sal stuur.”

18. Juda het haar gevra: “Wat wil jy hê moet ek los?”“Jou seëlring met sy kettinkie en jou kierie,” het sy gesê. Hy het dit vir haar gegee en by haar gaan slaap. Tamar het toe ’n kind by hom verwag.

19. Na ’n ruk is Tamar weer terug huis toe. Sy het haar sluier afgehaal en weer die klere van ’n weduwee aangetrek.

20. Juda het toe sy vriend, Gira van Adullam, met die boklam gestuur. Hy moes ook Juda se besittings terugbring. Gira kon Tamar egter nêrens kry nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 38