Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:6-20 Die Boodskap (DB)

6. Hy het vir hulle gesê: “Luister, ek wil julle van my droom vertel.

7. Ons was almal in die veld besig om gerwe koring vas te bind. Skielik staan my gerf regop. Julle gerwe het ook regop gestaan en in ’n kring rondom my gerf kom staan. En daar buig julle gerwe toe voor my gerf.”

8. Die broers was woedend en het vir hom gevra: “Mannetjie, wil jy nou oor ons regeer? Wil jy ons baas word?” Die broers het Josef nog meer gehaat oor al sy droompraatjies.

9. Josef het nog ’n droom gehad en het dit sowaar weer vir sy broers loop en vertel. “Hoor hier,” het hy gesê, “ek wil julle van ’n ander droom vertel. Hierdie keer was dit die son, die maan en elf sterre wat gekom en voor my gebuig het.”

10. Opgewonde het Josef ook vir sy pa van die droom gaan vertel. Sy pa het hom egter kortgevat: “Watse dromery is dit met jou? Wat beteken al jou drome? Dink jy nou regtig ek en jou ma en al jou broers moet voor jou kom buig?”

11. Al die broers was jaloers op Josef. Sy pa het sy woorde onthou en dikwels daaraan gedink.

12. Op ’n dag het sy pa hom geroep. Dit was in die tyd toe sy broers die kuddes in die omgewing van Sigem laat wei het.

13. Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers is naby Sigem met die skape. Ek stuur jou na hulle toe. Jy moet gaan kyk hoe dit met hulle gaan.”“Goed, ek sal gaan,” het Josef geantwoord.

14. Jakob het verder gesê: “Jy moet gaan kyk hoe dit met jou broers gaan en wat die toestand van die vee is. Kyk mooi en dan kom vertel jy my.” Josef is toe daar weg. Van Hebron af is hy reguit in die rigting van Sigem.

15. Terwyl Josef nog so in die veld stap, sien hy ’n vreemde man aankom. “Wat soek jy?” het die man gevra.

16. “Ek soek my broers,” het Josef geantwoord. “Meneer weet nie dalk waar hulle die skape laat wei nie?”

17. “Hulle was hier gewees,” het die vreemde man geantwoord, “maar toe is hulle weer vort. Ek het gehoor hulle is op pad Dotan toe.” Josef het toe sy broers se spoor gevat en hulle duskant Dotan ingehaal.

18. Hulle het hom al van ver af sien aankom. Voordat Josef nog by hulle was, het hulle klaar besluit om hom dood te maak.

19. Hulle het vir mekaar gesê: “Dit is mos die ou dromer wat hier aangestap kom.

20. Hoekom maak ons nie die ou windlawaai dood en gooi sy liggaam in een van die putte nie? Ons kan sê die een of ander wilde dier het hom gevang en uitmekaargeskeur. Dan sal ons sien wat van al sy droompraatjies gaan word.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 37