Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 3:15-24 Die Boodskap (DB)

15. “Ek maak jou en hierdie vrou bitter vyande van mekaar. Jou nageslag en haar nageslag sal mekaar haat. Hulle sal altyd probeer om jou kop plat te trap. En jy sal hulle aan die hakskeen wil byt.”

16. Vir die vrou het Hy gesê: “Wanneer jou kinders gebore word, sal jou pyn ondraaglik wees. Elke kind sal in die allergrootste pyn gebore word. Jy sal ook altyd na jou man bly verlang, hy sal jou oorheers.”

17. Vir die man het Hy gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en van die verbode vrugte geëet het, sal die grond vervloek wees ter wille van jou: jy sal jou lewe lank bitter hard moet werk. Niks groei van nou af meer vanself uit die aarde nie. As jy iets wil oes, sal jy hard, baie hard, daarvoor moet werk.

18. “En dan sal daar ook nog oral dorings en onkruid groei. Jy sal die plante van die veld moet eet.

19. Met sweet en met harde werk sal jy ’n lewe uit die grond moet maak. So sal jy moet aanhou totdat jy dood is, totdat jy geword het soos die stof waaruit jy gemaak is. Onthou, jy is van stof gemaak en eendag sal jy ook maar weer net stof word.”

20. Die man het sy vrou Eva genoem, want uit haar is al die latere geslagte mense gebore.

21. Die Here God het toe vir Adam en Eva klere van vel gemaak en dit vir hulle aangetrek.

22. Toe het God gesê: “Die mens het amper soos Ons geword. Hy weet nou wat die verskil tussen goed en kwaad is. Nou moet hy net nie ook nog die vrugte van die boom van die lewe eet nie, want dan leef hy vir altyd.”

23. Daarom het God hom uit die tuin van Eden weggejaag. Hulle moes elders die grond gaan bewerk, dieselfde grond waaruit hulle gemaak is.

24. Nadat hulle uit die tuin weg is, het die Here God engele met vlammende swaarde aan die oostekant van die tuin van Eden geplaas. Hulle moes die boom oppas wat vir altyd lewe gee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 3