Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 28:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Isak het Jakob toe geroep en vir hom gesê: “Moet tog nie met een van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie.

2. Gaan liewers na jou oupa Betuel toe. Hy woon in Paddan-Aram. Loop trou eerder met een van jou oom Laban, jou ma se broer, se dogters.

3. En mag die almagtige God jou help. Mag Hy by jou wees en mag jy baie kinders hê. En mag jou nageslag so groot wees dat julle sommer ’n groot volk sal word.

4. Mag die Here so naby aan jou en jou nageslag wees soos Hy vroeër naby aan Abraham was. En mag die Here vir jou die land gee waarop jy nou as vreemdeling loop; die land wat die Here destyds al aan Abraham beloof het.”

5. Isak het sy seun gegroet en Jakob is daar weg. Hy het reguit koers gekies Paddan-Aram toe. Hy was op pad na sy oom Laban toe. Laban was die seun van Betuel, die Arameër en die broer van Rebekka, Jakob en Esau se ma.

6. Esau was van alles bewus. Hy het gesien toe Isak vir Jakob gegroet het. Hy het gehoor hoe sy pa vir Jakob geseën het en vir hom gesê het om tog nie met ’n Kanaänitiese vrou te trou nie.

7. Dit het hom opgeval hoe gehoorsaam Jakob aan sy ouers was, want hy het sy goed gevat en Paddan-Aram toe gegaan.

8. Esau het hieroor nagedink en besef dat sy Kanaänitiese vroue vir sy pa ’n bitter ding is.

9. Hy het besluit om na sy oom Ismael toe te gaan. Ismael was ’n ander seun van Abraham by ’n Egiptiese vrou, Hagar. Esau het reeds vroue gehad, maar het toe ook nog met Ismael se dogter Magalat getrou. Sy was die suster van Nebajot.

10. Jakob het Berseba verlaat en Haran toe gegaan.

11. Teen die aand se kant het hy by ’n plek gekom en besluit om sommer daar te oornag. Hy het een van die klippe wat daar rondgelê het, geneem en dit as kussing gebruik. Toe het hy net daar gaan lê en aan die slaap geraak.

12. Wat ’n droom het hy nie gehad nie! Daar was ’n baie lang leer, van die grond tot bo by die hemel. Die engele van God het op en af met die leer geklim.

Lees volledige hoofstuk Genesis 28