Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 25:23-34 Die Boodskap (DB)

23. Die Here het geantwoord: “Twee volke stoei in jou skoot. Twee volke sal uit jou kom. Die een sal egter sterker as die ander een wees. Die oudste broer sal die jongste een dien.”

24. Teen die tyd dat Rebekka geboorte moes skenk, het hulle ontdek daar is ’n tweeling op pad.

25. Die eerste kind is gebore. Hy was rooierig van kleur en oral op sy lyf was daar hare. Hulle het hom Esau genoem.

26. Toe die tweede kind gebore is, was sy een hand om sy broer se enkel. Hulle het hom Jakob genoem. Isak was 60 jaar oud toe hierdie twee seuns gebore is.

27. Albei seuns het grootgeword. Esau was ’n natuurmens en ’n goeie jagter, en hy het graag buite gekom. Hy het mettertyd die jagkuns aangeleer en ’n vaardige jagter geword. Jakob was heeltemal anders. Hy was ’n eenkantmens wat graag sy tyd in die tent deurgebring het.

28. Isak was mal oor Esau, omdat hy altyd vir sy pa sulke lekker wildsvleis gemaak het. Rebekka weer was erg oor Jakob, haar huiskind.

29. Op ’n dag het Jakob heerlike kos gemaak. Esau daag toe uit die bloute daar op. Hy was moeg en honger

30. en sê toe vir Jakob: “Ek is uitgeput en honger. Gee my tog so ’n ietsie van jou lekker kos, van die rooi goed wat jy daar het.” Toe Esau gebore is, was hy mos so rooierig en dit is waarom hulle hom Esau genoem het.

31. Jakob, die skelm, het geantwoord: “Gee my eers al jou regte en voordele as oudste kind.”

32. “Ag, wat,” het Esau gesê, “jy kan maar alles vat. Ek is tog aan die doodgaan en nou help al daardie regte en voordele my net mooi niks. So, vat dit vir jou.”

33. Die geslepe Jakob het egter druk op Esau geplaas: “Nee, jy moet eers sweer en beloof dat alles myne is.” Esau het toe sy woord gegee dat Jakob sy eersgeboortereg kon kry.

34. Jakob het toe vir Esau ’n stuk brood gegee en van die heerlike lensiebredie vir hom uitgeskep. Esau het alles opgeslurp en ook nog iets gedrink. Toe het hy opgestaan en geloop. So het Esau sy eersgeboortereg vir Jakob gegee. Vir ’n lekker bord kos het hy al sy regte en voordele as oudste seun van die familie weggegee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 25