Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 21:17-27 Die Boodskap (DB)

17. God het gehoor toe die kind huil en deur sy Engel uit die hemel gesê: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees jou kind gaan sterf nie. God het hom gehoor daar waar hy onder die struike lê.

18. Gaan tel hom op en troos hom, want Ek sal hom nog eendag ’n groot nasie maak.”

19. Toe het God Hagar se oë laat oopgaan en sy het ’n fontein met helder water gesien. Sy het die watersak volgemaak en die seun ook laat drink.

20. God was naby Ismael en hy het grootgeword. Hy het in die woestyn gewoon en was ’n goeie jagter.

21. Hy het in die omgewing van die Paranwoestyn gewoon en sy ma het vir hom ’n Egiptiese vrou gekry.

22. Ongeveer dieselfde tyd het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, Abraham besoek en gesê: “Abraham, God is altyd naby aan jou. Wat jy ook al doen, Hy is by jou.

23. Dit is waarom jy my vandag iets voor God moet beloof. Jy moet my jou woord gee dat jy altyd vir my goed sal wees. Ook vir my kinders en hulle kinders, ook vir hierdie land en al sy mense. Onthou, ek was ook vir julle goed. Destyds toe jy en jou vrou by ons was, was ek goed vir julle.”

24. Abraham het geantwoord: “Goed, ek beloof dit.”

25. Abraham het Abimelek egter van ’n slegte voorval by ’n waterput vertel. Abimelek se manne het op ’n dag die put vir hulleself gevat en Abraham se mense kon dit toe nie meer gebruik nie.

26. Abimelek was ontsteld hieroor en het gesê: “Ek weet nie wie so iets gedoen het nie. Waarom het jy my nie vroeër vertel nie? Dit is die eerste woord wat ek daarvan hoor.”

27. Toe het Abraham skape en beeste gevat en vir Abimelek gegee. Hulle het ’n ooreenkoms met mekaar gemaak.

Lees volledige hoofstuk Genesis 21