Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:17-35 Die Boodskap (DB)

17. Toe hulle veilig was, het een van die engele gesê: “Vlug vir julle lewe. Moet net nie omkyk nie en moet nie sommer op enige plek gaan stop nie. Vlug liewers berge toe. Doen dit nou, anders sterf julle almal.”

18. Lot het egter vinnig geantwoord: “Nee, Meneer, dit kan nie gebeur nie.

19. U het my tot nog toe net gehelp. U was albei so goed vir ons en u het ons lewe gespaar. Maar, Meneer, ek kan nie nou berge toe vlug nie. Ek sal dood wees nog voordat ek daar kom.

20. Daar is egter ’n dorpie net agter die eerste bult. Dit is maar ’n klein ou plekkie, maar daar sal ons veilig wees. Niemand sal ons daar kry nie en geen ellende sal ons daar tref nie. So, asseblief, Meneer, laat ons tog daarheen gaan.”

21. Hy het toe geantwoord: “Goed dan, julle kan daarheen vlug. Ek sal aan julle dink en die dorpie nie verwoes nie.

22. Maar maak tog net gou, want ek kan niks doen voordat julle daar is nie.” Daarom noem hulle die dorpie Soar (wat “’n onbeduidende ding” beteken).

23. Die son was net op toe Lot-hulle in Soar aankom.

24. Toe het die hel losgebars. Die Here het swaelvuur op Sodom en Gomorra laat neerreën.

25. Hierdie vuur het alles en almal voor die voet verdelg. Die Here het al die stede in die omgewing heeltemal vernietig, al die inwoners doodgemaak en al die plante tot op die grond verwoes. Niks het oorgebly nie.

26. Lot se vrou het egter omgekyk en onmiddellik in ’n soutpilaar verander.

27. Vroeg die volgende oggend is Abraham terug na die plek waar hy die vorige dag nog met die Here gepraat het.

28. Hy het in Sodom en Gomorra se rigting gekyk en net verwoesting aanskou. Al die dorpe in die omgewing was vernietig. Donker rookwolke het oor die gebied gehang saam met die skerp reuk van rookwalms.

29. Terwyl die Here die stede in die vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink. Hy het onthou wat Abraham Hom gevra het; daarom is Lot en sy mense nie in die ramp dood nie.

30. Lot en sy dogters is later van Soar af weg. Hulle was bang om langer daar te bly. Hulle is toe die berge in en het in ’n grot gaan woon.

31. Lot se oudste dogter sê toe eendag vir haar suster: “Pa word oud en hier is geen man in die omgewing met wie ons kan trou nie.

32. Kom ons maak Pa dronk en dan gaan slaap ons by hom. Deur Pa kan ons dan vir ons ’n nageslag bou.”

33. Daardie aand het hulle Lot dronk gemaak. Toe hy goed dronk was, het die oudste by hom gaan lê. Lot het nie eens geweet dat sy oudste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie.

34. Die volgende oggend het die oudste vir die jongste dogter gesê: “Ek het laas nag by Pa geslaap. Vannag is dit jou beurt. Ons maak hom eers goed dronk en dan gaan lê jy by hom. So sal ons darem ’n nageslag hê.”

35. Daardie aand het hulle toe weer hulle pa dronk gemaak en ook die jongste dogter het by hom geslaap. Lot het weer nie eens geweet dat sy jongste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19