Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 47:6-11 Die Boodskap (DB)

6. Die man sê toe vir my: “Het jy opgelet wat gebeur het?” Toe stap ek saam met hom al langs die stroom terug tot by die huis van die Here.

7. Terwyl ons terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome aan weerskante van die stroom, al langs die wal van die rivier.

8. Die man het toe vir my verduidelik: “Hierdie water wat onder die drumpel van die huis van die Here uitkom, loop weg na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See inloop. En wanneer dit in die Dooie See inloop, word die soutwater van die Dooie See weer vars en skoon.

9. Oral waar hierdie water kom, wemel dit van al die soorte diere. En in die water is daar baie vis, want dit is vars, skoon water. In die Dooie See leef niks nie omdat die water dood is. Hierdie water sal die Dooie See se water weer vars maak. Oral waar hierdie water kom, sal alles lewe.

10. Weet jy wat? Langs die Dooie See sal die vissers bankvas staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Waar voorheen geen lewe was nie omdat die water dood was, sal nou elke denkbare soort vis volop wees. Oral langs die Dooie See sal die vissers hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Middellandse See.

11. Al wat nie weer vars sal word nie, is die moeraswater en die water in die kuile langs die Dooie See. Hulle moet sout bly om julle te herinner aan die wonderwerk wat gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 47