Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 37:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Toe sê die Here vir my: “Mens, Israel is soos hierdie bene. My volk sê: ‘Ons het soos ou, droë, dooie bene geword. Ons het geen hoop in die lewe meer oor nie!’

12. “Sê nou vir my volk die Here, die God van Esegiël, sê: My volk, Ek haal julle uit die graf waarin julle beland het toe julle as gevangenes weggevoer is na vreemde lande. Dit sal wees asof Ek julle uit die dood laat opstaan. Want Ek sal julle daar gaan haal en terugbring na julle eie land. Julle sal weer in Israel bly.

13. Wanneer dit gebeur, sal julle erken dat Ek die Here is, my volk.

14. Dan sal my Gees die wind wees wat Ek oor julle laat waai. Julle sal weer lewe en terugkom huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle weet dat Ek die Here is, as julle sien dat Ek alles presies gedoen het soos Ek belowe het.” Dit is Ek, die Here, wat gepraat het.

15. Die Here het toe verder met my gepraat.

16. “Mens, vat ’n stuk hout. Kerf dan hierdie woorde daarop: Hierdie stok is Juda en al die stamme wat saam met hom werk. Vat dan ’n ander stok en kerf daarop: Hierdie stok is die stamme van die noordelike ryk van Israel.

17. Hou nou albei hierdie stokke saam in jou hand. Gebruik hulle as een stok.

18. Wanneer jou mense vir jou vra wat jy doen en wat dit beteken,

19. moet jy vir hulle verduidelik: So sê die Here, Esegiël se God: Ek gaan die noordelike stamme van Israel vat en hulle by Juda sit. Ek maak hulle een stok in my hand.

20. “Hou dan die stokke waarop jy gekerf het, so dat jou mense dit kan sien.

21. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê só: Ek gaan die mense van Israel haal waar hulle tussen ander nasies bly. Ek gaan hulle huis toe bring, want Ek gaan hulle self haal waar hulle nou in vreemde lande bly.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 37