Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 36:32-38 Die Boodskap (DB)

32. “Maar onthou,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek doen nie hierdie goeie dinge vir julle omdat julle dit verdien nie. Nee, my volk Israel. Die teenoorgestelde is waar. Julle behoort julle morsdood te skaam oor al die lelike goed wat julle aangevang het!”

33. So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer Ek julle skoonmaak van al die slegte dinge wat julle gedoen het, sal Ek weer mense in julle stede laat bly. Die bouvalle waar julle stede eers was, sal weer opgebou word.

34. Die veld wat nou verlate lê, sal weer deur die boere in landerye omskep word. Die mense wat nou by julle plase verbyloop, is geskok oor hoe verlate alles is.

35. Maar wanneer Ek julle terugbring, sal die mense sê: ‘Kan jy dit glo? Hierdie godverlate land het nou die Here se tuin geword!’ Die stede wat bouvalle is, sal dan weer veilig wees vir al die mense wat daarin woon.

36. Dan sal al die nasies wat nog om julle bly, weet en erken dat Ek, die Here, die bouvalle weer opgebou het. Hulle sal weet dat dit Ek is wat landerye in die woestyn gemaak het. Want Ek, die Here, het belowe dat Ek dit sal doen. En Ek gaan dit doen!”

37. So sê die Here, Esegiël se God: “Ek staan reg om na Israel se gebede te luister as hulle My vra dat Ek al hierdie dinge vir hulle doen. Ja, Ek wil graag doen wat hulle vir My vra.

38. Ek sal die mense in hierdie land so baie laat word soos die skape en beeste in Jerusalem as daar ’n groot fees aan die gang is. Die stede wat nou net bouvalle is, sal vol mense wees soos voorheen. En almal sal erken dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 36