Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Toe het die Here vir my gesê:

2. “Mens, sê vir die skaapwagters van Israel wat Ek vir jou sê. Hulle is die leiers van my volk. Wel, die Here, Esegiël se God, sê vir hulle: Ek gaan julle vernietig, want julle eet die kos wat vir die skape bedoel was. Is dit nie skaapwagters se werk om vir die skape te sorg en vir hulle kos te gee nie?

3. “Julle drink die melk wat die diere vir julle gee. Julle dra klere wat geweef word van die wol wat hulle gee. En julle slag die beste skape om hulle vleis te eet. Maar julle gee nie eens vir hierdie diere kos nie! Hulle vrek van die honger.

4. Julle gee nie om vir die swak skape nie. Julle sorg ook nie vir die siek diere nie. As ’n skaap ’n been breek, doen julle net mooi niks daaraan nie. Julle verbind nie die wonde en spalk die breuke nie. Julle gaan soek nie die skape wat wegdwaal van die trop en wegraak as dit donker word nie. Nee, julle behandel die trop skape sleg. Julle is wreed en maak hulle seer. Julle is mos sterker as die skape.

5. Daarom loop hierdie trop skape, my volk, alleen rond. Hulle het nie ’n skaapwagter wat hulle oppas nie. Wilde diere vang onder hulle, want hulle word nie beskerm nie.

6. My skape loop alleen op die heuwels en in die valleie. Hulle is al oor die hele aarde verstrooi. Niemand gaan soek hulle nie.

7. “Daarom moet die skaapwagters baie mooi luister na wat Ek vir hulle sê.

8. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “julle het my trop skape gelos en nie vir hulle gesorg nie. Julle het nie omgegee as wilde diere my skape aanval en doodmaak nie. Julle het niks daaraan gedoen nie. Ek het julle aangestel as skaapwagters om my skape op te pas. Maar julle het nie eens die moeite gedoen om op te staan en te gaan soek as van my skape weggeraak het nie. Julle het net vir julleself gesorg. Julle het julleself trommeldik geëet, maar my skape het van die honger gevrek.”

9. Daarom, luister mooi, skaapwagters.

10. So sê die Here, die God van Esegiël: “Julle is van nou af my vyande, skaapwagters! Ek hou julle verantwoordelik vir elke skaap. Julle sal vir My moet kom sê hoe dit met elke skaap gaan en wat van elke skaap geword het. En julle sal ook nie meer vir my skape kos gee nie, want Ek kan julle nie vertrou nie. Julle vat die kos vir julleself. Julle sal nie langer slag en eet soos julle wil nie. Ek red my skape uit julle hand.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34