Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 25:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het toe weer met my gepraat en vir my gesê:

2. “Mens, kyk na daardie kant toe waar die mense van Ammon woon. En sê vir daardie land en sy inwoners alles wat Ek vir jou sê.

3. Sê vir die mense van Ammon die Here, Esegiël se God, dink só oor hulle: Julle het gelag en gespot toe my huis afgebreek is. En julle het Israel gespot toe sy deur haar vyande verwoes is. Julle het gelag toe party van die mense van Juda as gevangenes na ’n vreemde land toe weggevat is.

4. Daarom beveel Ek nou dat die mense wat in die woestyne daar aan die oostekant bly julle land inneem. Hulle sal tussen julle dorpe en stede kom kamp opslaan. En hulle sal julle oeste afvat en julle skape en beeste steel.

5. Daardie dag sal Ek Rabba, julle hoofstad, ’n stuk oop veld maak waar kamele kan wei. En die ander stede sal verwoes word sodat skape daar kan wei. Daardie dag sal julle erken dat Ek die Here is.”

6. Die Here, Esegiël se God, sê: “Julle het hande geklap en gedans en van vreugde uitgeroep omdat my volk vernietig is.

7. Daarom lig Ek my vuis teen julle op en slaan julle plat. Ek gee julle as buit vir ander nasies om mee te maak wat hulle wil. Julle sal nie meer ’n nasie wees nie. Ek vernietig julle heeltemal. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.”

8. Toe sê die Here, die God van Esegiël: “Die mense van Moab het gesê Juda is maar net soos al die ander nasies. Daar is geen verskil tussen my volk en die heidene nie.

9. Daarom sal Ek al die stede aan julle oostekant en op julle grens vernietig, want julle het gedink dat daardie stede julle sal beskerm.

10. Ek gee julle land vir die inwoners van die woestyn aan die oostekant, nes Ek met Ammon gemaak het. Daarom sal die Ammoniete nie langer ’n nasie wees nie.

11. En julle sal ook nie langer as ’n nasie bestaan nie, want Ek vernietig julle. Ek straf julle vir wat julle gedoen het. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.”

12. So sê die Here, Esegiël se God: “Die mense van Edom het sleg opgetree toe hulle wraak geneem het op die mense van Juda, toe die Babiloniërs die mense van Juda verslaan het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 25