Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 21:6-18 Die Boodskap (DB)

6. “Mens, sug swaar voor die mense. Maak asof jou hart gebreek is. Sug en kla van die môre tot die aand.

7. As hulle dan vir jou vra hoekom jy dit doen, moet jy antwoord: Ek is ontsteld oor die verskriklike slegte nuus wat ek gehoor het. As hierdie nuus waar word, gaan julle almal net so sug. Dit sal lyk of julle harte ingee en gaan staan. Julle sal nie meer krag oorhê om eers op te staan nie. Julle knieë sal lam word en julle sal nie kan loop nie.” Die Here, die God van Esegiël, sê: “Dit kom gou! Dit gaan gebeur.”

8. Toe sê die Here ook vir my:

9. “Mens, praat met hierdie klomp mense en sê vir hulle: ’n Swaard word skerp gemaak vir julle!

10. Die swaard word reggemaak om te kom vernietig. Hy sal so vinnig soos weerlig blits. Lag julle daaroor? Ander mense wat baie sterker as julle is, is deur hierdie swaard doodgemaak.

11. Ja, die swaard word nou reeds skerp gemaak en blink gevryf. Dit word reggemaak vir die man wat die vonnis oor julle moet kom voltrek!

12. “Mens, skree hard en huil. Huil kliphard! Want hierdie selfde swaard gaan my volk met al sy leiers kom doodmaak. Almal van hulle sal doodgemaak word.

13. Ek sal my volk toets. Watter kans sal hulle hê as Ek hulle begin straf?” Dis die Here, Esegiël se God, wat dit vra.

14. “Mens, sê vir hulle presies wat Ek vir jou sê. Maak ’n geraas sodat die volk vir jou kyk. En swaai dan die swaard twee, drie maal heen en weer. Wys só vir die volk hoe groot die verwoesting onder hulle gaan wees.

15. Maak hulle bang. Laat hulle harte inmekaarkrimp van vrees, want die swaard wag by elke hek waar ’n mens sou kon uitvlug. Dit is blink gevryf om mense dood te maak.

16. O, swaard, kap na die linkerkant. En na die regterkant. Kap waar jy wil en na wie jy wil.

17. Ja, daardie dag sal Ek ook my hande klap, so bly sal Ek wees dat Ek my woede op julle kon afkoel oor al julle slegte dade. Ek, die Here, het met julle gepraat.”

18. Die Here het met my gepraat. Hy het gesê:

Lees volledige hoofstuk Esegiël 21