Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 20:36-47 Die Boodskap (DB)

36. Ek sal julle daar oordeel soos Ek julle oupagrootjies in die woestyn geoordeel het nadat Ek hulle uit Egipte gelei het.” Dit is die Here, Esegiël se God, wat hier praat.

37. “Ek sal julle tel om seker te maak die laaste een staan daar voor My. En dan sal Ek julle beoordeel volgens wat Ek in my ooreenkoms met julle vir julle gesê het julle moet doen.

38. Dan sal Ek almal wat hulle nie aan My gesteur het nie, eenkant sit. Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar hulle nou gevangenes is. Hierdie mense sal nooit die land Israel ingaan nie. Die dag as dit gebeur, sal hulle weet dat Ek die Here is.

39. “Wat julle betref, volk van Israel,” so sê die Here, die God van Esegiël, “gaan loop agter julle nikswerd afgode aan! Aanbid maar julle afgode! Maar moet dan nie omdraai en die volgende dag geskenke vir My wil bring omdat julle My nodig het nie. Ek sal nie toelaat dat julle My misbruik nie!”

40. “Op die hoë berg waar my woning was,” sê die Here, Esegiël se God, “sal julle My weer kom dien. Daardie dag sal Ek julle toelaat om voor My te kom staan. Julle sal offers vir My bring en Ek sal dit aanvaar.

41. Dit sal wees wanneer Ek julle ná julle gevangenskap in Babilonië weer terugneem na julle eie land toe. Dan sal Ek julle weer as my eie volk aanvaar. Terwyl al die nasies toekyk, sal Ek julle as my eie spesiale volk aanneem,

42. daardie dag as Ek julle weer teruggebring het na julle eie land toe, sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Julle eie land is die pragtige land wat Ek belowe het om aan julle oupagrootjies en oumagrootjies te gee.

43. “Dan sal julle terugdink aan al die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, en julle sal julleself daarvoor haat.

44. Daardie dag sal Ek weer my groot Naam beskerm deur julle julle slegte dade te vergewe en julle skuld af te skryf, alhoewel julle diep in julle harte steeds sleg is. As julle dit sien, sal julle nie anders kan nie as om te weet en te erken dat Ek die Here is.”

45. Die Here het verder vir my gesê:

46. “Mens, kyk na die suidekant en sê die volgende woorde. Praat met die woestyn.

47. Sê vir die suidelike woestyn die Here, die God van Esegiël, sê: Hoor die woord van die Here! Ek steek jou aan die brand, bos. Elke boom sal afgebrand word, al die groen en die droë bome. Die verskriklike vlamme van die brand sal nie geblus kan word nie. Alles sal vernietig word, van die suide tot in die noorde.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 20