Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:44-53 Die Boodskap (DB)

44. “Die mense wat spreekwoorde uitdink, sal van jou sê: ‘Aardjie na haar vaartjie!’

45. Jou eie ma het haar man en kinders verruil vir ander mans. En nou het jy dieselfde aangevang. Jy maak presies nes jou susters, want hulle verruil ook hulle mans en kinders vir ander mans. Ja, dis waar. Jou ma was ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet. Jy tree soos ’n heiden op!

46. “Jou ouer suster was Samaria wat met haar dogters daar in die noorde gebly het. En jou jonger suster was Sodom wat met haar kinders in die suide gebly het.

47. Maar dit was nie genoeg dat jy dieselfde slegte dade as hulle gedoen het nie. Nee, in ’n kort tydjie het jy hulle oortref met die slegte dinge wat jy gedoen het!

48. So seker as wat Ek leef, Sodom en haar dogters het nooit sulke slegte dinge gedoen soos jy en jou dogters nie,” so sê die Here, Esegiël se God.

49. “Sodom se slegte dade was dat sy lui en trots was. Sy het haar ooreet terwyl daar arm mense was wat voor haar huis gesit het en niks gehad het om te eet nie.

50. Sy was trots op haarself terwyl sy die afskuwelikste dinge aangevang het. Daarom het Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee. Gaan kyk self: daar is niks oor van hierdie stede nie.

51. “Selfs Samaria, die ryk van Jerobeam, het nie helfte van die slegte dinge gedoen wat jy doen nie, Israel. Jy het baie slegter dinge gedoen as wat hulle ooit kon uitdink. Trouens, as jy Samaria en Sodom langs jou sit, lyk dit of hulle goeie mense was!

52. Jy behoort jou te skaam. Jou slegte dade is afskuwelik! Jou susters lyk onskuldig as hulle langs jou gaan staan.

53. “Eendag gaan Ek Sodom en Samaria en hulle dogters weer opbou. En Ek sal jou ook weer opbou.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16