Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:2-13 Die Boodskap (DB)

2. “Mens, gaan vertel vir Jerusalem watter verskriklike slegte dade sy inwoners gedoen het.

3. Gaan sê vir hierdie stad wat Ek, die Here, die God van Esegiël, sê: Jy is niks anders as ’n heiden nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet.

4. Die dag toe jy gebore is, was daar niemand wat vir jou gesorg het nie. Daar was niemand wat genoeg omgegee het om eers die naelstring af te sny waarmee jy aan jou ma vas was nie. Niemand het jou gewas of versorg nie. Jy het ook nie iets warms gehad waarmee hulle jou kon toedraai nie. Niemand het vir jou omgegee nie.

5. Daar was niemand wat in jou belanggestel het nie. Niemand het jou jammer gekry of vir jou gesorg nie. Hulle het jou die dag toe jy gebore is, sommer in die veld gaan weggooi. Jy is alleen gelos om dood te gaan omdat niemand jou wou gehad het nie.

6. “Maar toe het Ek verbygekom en jou daar sien lê. Jy het hulpeloos gelê en skop in jou eie bloed terwyl jy besig was om dood te gaan. Toe Ek jou daar sien lê, het Ek gesê: ‘Jy moet lewe!’

7. En Ek het jou opgetel en versorg. Soos ’n splinternuwe plant het jy weer begin lewe. Jy het opgegroei en soos ’n mooi en kosbare juweel geword. Soos ’n jongmeisie het jou borste begin vorm en jou hare het gegroei, alhoewel jy sonder klere was.

8. “Toe het Ek eendag weer daar verbygegaan waar jy bly, en gesien dat jy nou oud genoeg is om te trou. En toe het Ek jou my klere gegee om aan te trek en met jou getrou. Ek het ’n ooreenkoms met jou aangegaan om jou huweliksmaat te wees. Jy het Myne geword,” sê die Here, Esegiël se God.

9. “Toe het Ek jou gebad en die bloed van jou afgewas. Ek het jou vel met die heerlikste olies ingevryf.

10. En Ek het duur klere gekoop sodat jy jou mooi kon aantrek. Jou klere was van die beste en duurste wat ’n mens kan koop. Ek het ook vir jou duur skoene gekoop.

11. En Ek het vir jou pragtige juwele gekoop: hangertjies vir jou nek en armbande,

12. en ander juwele waarmee jy jou mooi kon maak. Ek het selfs ’n goue kroon gekoop om op jou kop te sit, want jy was my koningin.

13. So het Ek jou mooi gemaak met die goud en silwer wat Ek ten duurste vir jou gekoop het. Jou klere was die duurste en die mooiste wat ’n mens in die hande kan kry. Jy het die beste en lekkerste kos gekry. En jy was mooier as ooit tevore. Vir My was jy die kosbaarste wat Ek het. Jy het soos ’n koningin gelyk, en jy was ook vir My ’n koningin!

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16