Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 13:16-23 Die Boodskap (DB)

16. Hulle het leuens vertel en dan gesê dis Ek wat praat. Hulle het gesê daar wag vrede vir my volk en vir Jerusalem, terwyl daar nie vrede kom nie. Dit is die Here, die God van Esegiël, wat hier praat.”

17. “Mens, jy moet ook met die vroue praat wat sê dat hulle namens My praat, maar dan is dit eintlik net stories wat hulle uitgedink het.

18. Jy moet vir hierdie vroue sê die Here, die God van Esegiël, dink die volgende oor hulle: Ek gaan julle vernietig omdat julle soos ’n voëlvanger my volk in ’n net gevang het. Julle het die oumense en die jongmense met julle liegstories gevang. Julle het mense getoor om hulle in julle mag te kry sodat hulle sal doen wat julle wil hê hulle moet doen. Dink julle julle kan mense van die môre tot die aand bedrieg en daarmee wegkom? Kan jy ander in ’n net vang sonder om self in ’n net gevang te word?

19. Julle het mense op ’n pad gelei sodat hulle al verder van My af weggegaan het, en julle het boonop van hulle betaling gekry om dié boel leuens aan hulle te verkondig. Julle het leuens aan mense vertel wat graag leuens wil hoor. En so het julle mense doodgemaak wat nie doodgemaak moes word nie. En julle het lewe belowe aan mense wat nie gaan lewe nie.

20. “Daarom breek Ek al die toorkrag waarmee julle dié arme mense in julle mag probeer kry het soos ’n mens wilde voëltjies vang om hulle in ’n hok op te sluit,” sê die Here, die God van Esegiël. “Ek ruk die net waarmee julle hulle soos voëltjies probeer vang het, uit julle hande uit. En Ek maak die hokkie se deur wyd oop sodat die mense in vryheid kan uitvlieg.

21. Ek vernietig al julle toordery en Ek red my mense uit julle mag. Hulle sal nie langer slagoffers van julle leuens wees nie. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.

22. Julle het die mense wat goeddoen, moedeloos gemaak met al die liegstories waarmee julle te koop geloop het, dat Ek hulle nie gaan seën nie. En dit was juis dié mense - dié wat goeddoen - wat Ek wou beskerm. Maar julle het die mense wat besig is met slegte dade aangemoedig om met hulle kwaad aan te gaan deur vir hulle te sê dat Ek hulle sal seën, selfs al hou hulle aan om slegte dinge te doen.

23. Julle sal nie verder kan vertel van alles wat julle kwansuis in visioene sou gesien het nie. En julle sal nie kan aangaan met julle toordery nie. Want Ek sal my mense, dié mense wat goeddoen, uit julle mag red. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 13