Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 7:19-25 Die Boodskap (DB)

19. Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê om sy kierie te vat en dit uit te steek na al die plekke waar daar water in Egipte is. Hy moet dit uitsteek na die spruite, na die riviere, na die vleilande en na die damme. Al die water in die land sal dan in bloed verander. Selfs ook die water wat in emmers geskep is en in bakke is, sal in bloed verander.

20. Moses en Aäron het toe net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Terwyl die farao en sy amptenare staan en kyk, het Moses sy kierie gevat en op die water by die rivier geslaan. Al die water in die rivier het in bloed verander.

21. Die vis in die rivier het gevrek. Die rivier het so sleg begin ruik dat niemand in Egipte die water van die rivier kon drink nie. Oor die hele land was daar net bloed.

22. Die Egiptiese towenaars kon dieselfde doen met hulle kunsies. Al wat gebeur het, was dat die farao hom net verder teëgesit het en geweier het om na hulle te luister. Dit was mos soos die Here gesê het dit sal gebeur.

23. Die farao het toe die rug vir hulle gedraai en teruggegaan huis toe. Hy het hom glad nie verder gesteur aan wat daar gebeur het nie.

24. Die Egiptenaars het toe waterputte al langs die Nyl gegrawe omdat niemand die water van die rivier kon drink nie.

25. Die ramp waarmee die Here die rivier getref het, het sewe dae lank aangehou.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 7