Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 5:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Moses en Aäron het toe na die farao toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Die Here is die God van Israel. Die Here sê vir jou: ‘Jy moet my volk toelaat om na die woestyn toe te gaan om daar vir My ’n fees te gaan hou.’”

2. Die farao antwoord toe: “En wie is hierdie ‘Here’ altemit dat ek na Hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken Hom van geen kant nie. Ek gaan Israel nie toelaat om weg te gaan nie.”

3. Hulle sê toe weer: “Die God van die Hebreërs het met ons gepraat. Gee tog vir ons kans om drie dae lank weg te gaan. Ons wil in die woestyn vir die Here ons God gaan offer. As ons dit nie doen nie, sal Hy ons met siektes en met die dood straf.”

4. Die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Moses en Aäron, vir wat hou julle die mense van hulle werk af? Loop, gaan aan met julle werk!

5. Kyk hoe baie mense is julle volk al in die land. Verbeel jou, nou moet hulle nog hulle werk laat staan om te gaan feesvier!”

6. Nog daardie selfde dag het die farao vir die mense gesê wat hy oor die volk aangestel het om hulle die harde werk te laat doen:

7. “Julle moenie langer strooi vir die volk gee om bakstene mee te maak nie. Van nou af moet hulle self strooi gaan soek.

8. Maar hulle moet nog steeds elke dag net soveel stene maak soos tevore. Julle mag nie toelaat dat hulle minder maak nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle met hierdie storie kom dat hulle hul God wil gaan aanbid.

9. Maak die werk vir die mense nog moeiliker. Hulle moet te besig wees om nog sulke slimstories uit te dink.”

10. Die manne wat oor hulle aangestel was, het toe vir die volk gaan sê wat die farao besluit het. “Ons gaan nie langer vir julle strooi gee om stene te maak nie.

11. Van nou af sal julle dit self moet loop soek. Dis julle saak waar julle dit in die hande gaan kry. Maar julle moet elke dag nog net soveel stene maak soos julle altyd gemaak het.”

12. Van toe af moes die volk oor die hele Egipte gaan soek waar hulle grasstoppels in die hande kon kry. Hulle moes dit in die plek van strooi gebruik om die stene te maak.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 5