Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 39:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Nadat hulle onikssteen poleer het, het hulle dit in goud vasgesit en die name van die families van die Israeliete kunstig daarop gegraveer.

7. Dit is op die skouerbande van die kledingstuk vasgesit sodat die name op die stene Israel kon verteenwoordig. Dit is alles gedoen presies net soos die Here vir Moses gesê het.

8. Die sak wat voor die bors kom, was ’n kunswerk. Hulle het dit net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne gemaak wat met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is.

9. Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm. Dit was vierkantig en 25 sentimeter lank en breed.

10. Hulle het twaalf soorte halfedelstene daarop vasgesit, gerangskik in vier rye van drie elk. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag;

11. in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis;

12. in die derde hiasint, agaat en ametis,

13. en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit is in ’n montering van goud vasgesit.

14. Die twaalf name van die families van Israel is elkeen op een van die twaalf stene gegraveer soos op ’n seëlring.

15. Hulle het vir die sak goue kettinkies uit suiwer goud gemaak wat soos tou gevleg is.

16. Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dit aan die twee boonste hoeke van die sak vasgesit.

17. Die kettinkies is toe aan die ringe vasgesit.

18. Die ander punte van die kettinkies is vasgesit aan die monterings op die bande van die deel wat oor die skouers kom.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 39