Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 39:21-32 Die Boodskap (DB)

21. Hulle het toe die onderste twee ringe van die borssak met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgesit, sodat dit nie laer as die gordel kon afsak nie. Dit was presies soos die Here vir Moses gesê het hulle dit moet maak.

22. Hulle het die deel wat bo-oor die deel gaan wat oor die skouers is, uit een stuk blou materiaal gemaak.

23. Dit het in die middel ’n gat gehad waardeur die kop gesteek kon word. Die opening is omgeboor en versterk sodat dit nie kon skeur nie.

24-26. Reg rondom die kleed, al op die soom van die kleed, het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk, wat met goue klokkies afgewissel is. Dit was soos die Here gesê het dit moet wees.

27. Hulle het ook vir Aäron en sy seuns stelle klere van fyn linne gemaak vir hulle werk by die tent.

28. Daar was gordels en mooi hoede en linnebroeke en

29. serpe van goed geweefde linne, gestik met blou, pers en bloedrooi wol. Dit was soos die Here gesê het dit moes lyk.

30. Hulle het ook vir Aäron se hoed ’n blom van suiwer goud gemaak. Hulle het met kunstige letters daarop gegraveer: “Vir die Here alleen.”

31. Dit is aan die voorkant van die hoed vasgeknoop met ’n blou toutjie. Dit was alles presies soos die Here vir Moses gesê het dit gemaak moet word.

32. Uiteindelik was alles klaar vir die tent waar God sy volk sou ontmoet. Die Israeliete het elke ding net so gemaak soos die Here dit vir Moses gesê het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 39