Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:22-34-35 Die Boodskap (DB)

22. Hou die oesfees wanneer jy begin oes en die eerste graan van die land af begin kom. Hou ook die fees aan die einde van die oestyd.

23. By al drie hierdie feeste moet al jou mansmense die Here, die God van Israel, by sy woonplek kom aanbid.

24. Niemand sal julle grond probeer afneem wanneer julle vir hierdie drie feeste weg is van die huis om tot die Here te gaan bid nie. Ek sal die nasies voor jou uit wegjaag. Ek sal die grond wat aan jou behoort, al meer maak.

25. Jy mag nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die paaslam by die paasfees mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.

26. Jy moet die beste deel van die eerste oes wat jy uit die grond haal, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.”

27. Die Here het vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde neer. Hulle is die reëls vir my ooreenkoms met jou en Israel.”

28. Moses was 40 dae lank daar by die Here op die berg. Hy het niks geëet of gedrink in daardie tyd nie. Die Here het die tien reëls vir sy ooreenkoms met Israel op die plat klippe geskryf wat Moses gekap en saamgebring het.

29. Toe Moses van die berg Sinai afkom met die plat klippe in sy hand - die bewys van hulle ooreenkoms met God - het Moses nie geweet dat die vel op sy gesig geblink het nadat hy met God gepraat het nie.

30. Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, en hulle sien ook hoe sy gesig blink, het hulle bang geword om naby hom te kom.

31. Moses het hulle egter nader geroep. Toe Aäron en al die mans nader kom, het Moses met hulle begin praat.

32. Toe al die Israeliete by hom was, het Moses alles wat die Here vir hom op die berg Sinai gesê het, aan hulle oorgedra.

33. Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy ’n doek oor sy gesig gesit.

34-35. Wanneer Moses met die Here in die tent gaan praat het, het hy die doek afgehaal totdat hy weer terugkom. As hy weer by hulle terugkom, kon die Israeliete aan sy gesig wat so blink sien dat Moses met die Here gepraat het. Hy sê dan vir hulle alles wat die Here vir hom gesê het. Dan sit hy weer die doek terug oor sy gesig totdat hy weer ’n volgende keer met die Here gaan praat.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34