Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:20-26 Die Boodskap (DB)

20. Hy het die beeld van die kalf in die vuur gegooi en dit toe so fyn soos stof gemaal. Hy het die poeier in die drinkwater gegooi en die Israeliete gedwing om dit op te drink.

21. Moses vra toe vir Aäron: “Watter kwaad het hierdie volk jou gedoen dat jy hulle moes verlei om so ’n verskriklike sonde te doen?”

22. Aäron antwoord toe: “Meneer, jy moenie kwaad word nie. Jy weet so goed soos ek dat hierdie volk altyd reg is om kwaad te doen.

23. Hulle het my kom vra: ‘Maak tog vir ons ’n god wat ons verder kan lei. Ons weet nie waar Moses is wat ons uit Egipte gelei het nie.’

24. Ek het toe vir hulle gesê dat almal wat goue ringe aanhet, dit moet afhaal en vir my kom gee. Ek het dit in die vuur gegooi en toe ek sien, toe spring hierdie goue kalf sommer daar uit die vuur uit.”

25. Moses sien toe dat die volk handuit geruk het tot groot vermaak van hulle teëstanders. Aäron het hulle nie in toom gehou nie.

26. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en uitgeroep: “Dié wat aan die Here se kant is, moet hier by my kom staan!” Die hele familie van Levi het toe om hom gaan staan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32