Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29:13-24 Die Boodskap (DB)

13. “Verbrand dan op die altaar die hele vetlaag wat oor die bul se binnegoed is, sy twee niere met die vet daaroor en die lewervet.

14. Die bul se vleis, sy vel en sy pensmis moet jy buite die kamp met vuur gaan verbrand. Dit is die eerste offer. Dit is ’n offer vir die sonde van die priesters.”

15. “Bring dan een van die ramme nader. Aäron en sy seuns moet hulle hande ook op sy kop sit.

16. Sny dit keelaf en sprinkel sy bloed van alkante oor die altaar.

17. Sny die ram in verskillende stukke op. Was die binnegoed en pote met water af en sit dit neer by die kop en die stukke vleis wat jy opgesny het.

18. Verbrand dit dan alles op die altaar. Dit is ’n offer wat vir die Here in vuur verbrand word. Hy hou baie daarvan.”

19. “Bring ook die tweede ram nader. Aäron en sy seuns sit weer hulle hande op die ram se kop.

20. Dan slag jy die ram en smeer van sy bloed aan Aäron en sy seuns se regteroorlelle, hulle regterduime en hulle regtergroottone. Sprinkel die bloed wat oor is alkante teen die altaar.

21. Meng van die bloed op die altaar met die lekkerruikolie waarmee jy Aäron in sy werk bevestig het. Sprinkel dit oor Aäron en sy seuns en oor hulle klere. Dit dui aan dat hy en sy seuns en hulle klere vir die Here afgesonder is.

22. “Die tweede ram word gebruik om die werkers by die tent vir hulle werk aan te stel. Sny daarvoor die ram se vet uit, ook sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad.

23. Haal uit die broodmandjie wat voor die Here staan, die ronde brood, die brood wat met olie gesmeer is en die beskuit.

24. Laat Aäron en sy seuns hulle hande na jou toe uithou en sit die brood en die vet in hulle hande. Hulle moet dit dan na die Here toe uithou en aan Hom opdra.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 29