Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:13-29 Die Boodskap (DB)

13. Die monterings waarin die stene vasgesit word, moet van goud gemaak word.

14. Daar moet ook twee kettinkies van suiwer goud wees wat inmekaar gevleg is. Jy moet hulle aan die twee monterings vassit.”

15. “Die sak wat voor sy bors hang, moet ook ’n kunswerk wees. Dit moet net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne wees. Dit moet geborduur word met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol. Dit moet gebruik word wanneer hy moet sê wat die Here oor iets besluit het.

16. Die materiaal moet dubbel gevou word om ’n sak te vorm. Dit is vierkantig: 25 sentimeter lank en breed.

17. Jy moet hierop twaalf verskillende soorte halfedelstene vassit. Rangskik hulle in vier rye van drie elk. In die eerste ry kom karneool, topaas en smarag;

18. in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis;

19. in die derde hiasint, agaat en ametis,

20. en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit word vasgesit in ’n montering wat van goud gemaak is.

21. Op elkeen van die twaalf stene moet die naam van een van die twaalf families gegraveer wees, soos op ’n seëlring.

22. Maak vir die sak goue kettinkies wat soos tou gevleg is.“

23. Maak ook twee goue ringe. Sit die ringe vas aan die twee boonste hoeke van die sak,

24. haak die kettinkies daardeur

25. en werk die punte daarvan aan die twee monterings vas wat op die bande van die ander stuk is wat oor die skouers kom.

26. Maak nog twee ander goue ringe en werk hulle aan die onderste twee hoeke van die sak vas, aan die binnekant waar dit op die deel rus wat oor die skouers kom.

27. Maak nog twee goue ringe en werk hulle laag af vas aan die bande van die deel wat oor skouers kom wat met die gordel om die heupe vasgetrek word.

28. “Die onderste twee ringe van die sak word dan met ’n blou toutjie vasgesit aan die ringe van die deel wat oor die skouers kom. Dit sal keer dat dit afsak tot onder die gordel.

29. So sal Aäron altyd die name van die families van Israel wat op die sak voor sy bors vasgesit is, aan sy lyf dra wanneer hy in die tent ingaan om hulle name voor die Here te bring.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28