Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 18:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Moses se skoonpa was mos Jetro. Hy het in Midian vir die Here gewerk en Hom met offers gedien. Hy het gehoor wat God alles met sy volk en met Moses laat gebeur het. Hy het gehoor hoe die Here Israel laat wegtrek het uit Egipte.

2-5. Moses se skoonpa het toe by hom kom kuier daar waar hulle by die berg van die Here in die woestyn kamp opgeslaan het. Hy het Moses se vrou, Sippora, en sy twee seuns, Gersom en Eliëser, saam met hom gebring. Moses het hulle destyds uit Egipte teruggestuur om by sy skoonpa te gaan bly. Soos voorheen gesê, het hy die oudste seun Gersom genoem. Die naam het daarop gewys dat Moses ’n vreemdeling in ’n vreemde land moes word. Die tweede seun het hy Eliëser genoem. Dit het daarna verwys dat die God van sy voorouers hom gehelp het toe die farao van destyds hom wou doodmaak.

6. Moses se skoonpa, Jetro, het hom met iemand laat weet dat hy en sy vrou en twee seuns by die kamp aangekom het.

7. Moses het sy skoonpa buite die kamp gaan ontmoet. Hy het, soos dit die gewoonte was, voor hom gebuig en hom op die wang gesoen. Na hulle mekaar klaar uitgevra het oor hoe dit met elkeen gaan, is hulle na Moses se tent toe.

8. Moses het sy skoonpa uitvoerig vertel wat die Here alles met die farao en met Egipte laat gebeur het om Israel te bevry. Hy het hom ook vertel van al die probleme wat hulle langs die pad gehad het en hoe die Here hulle daaruit gehelp het.

9. Jetro was baie bly om te hoor van al die wonderlike dinge wat die Here laat gebeur het om Israel uit Egipte te bevry.

10. Jetro het gesê: “Loof die Here! Hy het julle uit die greep van Egipte en uit die hand van die farao bevry. Hy het sy volk uit die kloue van Egipte geruk.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 18