Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 15:11-23 Die Boodskap (DB)

11. “Wie is daar onder dié wat sterk is, wat met U vergelyk kan word, Here? Wie is daar nog wat so hoog bo almal en alles uittoring? Wie kan sulke wonderlike dinge doen? Wie kan sulke wonderwerke laat gebeur?

12. U het u regterhand uitgesteek. Die aarde het die vyand ingesluk.

13. “Met u liefde wat so getrou bly, lei U die volk wat U losgekoop het. Met u groot krag vat U hulle na die land waar u groot Naam gaan woon.

14. Wanneer die volke hoor wat gebeur het, gaan hulle bewe. Vrees gaan die inwoners van Filistea aan die keel gryp.

15. Die leiers van Edom gaan hulle doodskrik. Die sterk manne van Moab se bene gaan begin bewe. Die inwoners van Kanaän se moed gaan hulle begewe.

16. Vrees en angs sal oor hulle kom. Hulle sal versteen staan voor u groot krag. Hulle sal vasgenael bly staan, Here, terwyl u volk by hulle verbytrek, die volk wat U vir Uself gekoop het, sal ongehinderd by hulle verbygaan.

17. U sal u volk bring en hulle op u berg laat woon. Op die plek, Here, waar U gekies het om te woon. Die plek, Heer, waar U vir Uself ’n plek vir aanbidding gemaak het.

18. Die Here regeer as koning vir nou en vir altyd.”

19. Dit was regtig so. Die Here het die water van die see oor die farao se perde en oorlogswaens en bemanning laat terugspoel toe hulle daardeur wou gaan. Toe die Israeliete daar deurgegaan het, was dit nog droë grond.

20. Aäron se suster Miriam was ’n boodskapper van die Here. Sy het ’n tamboeryn gevat en begin dans. Al die vroue het agter haar aan gedans en op hulle tamboeryne geslaan.

21. Sy het hulle uitgenooi om saam met haar te sing:“Kom ons sing vir die Here ’n lied. Hy is geweldig groot. Hy het die perd en die oorlogswa in die see gegooi.”

22. Moses het die Israeliete kamp laat opbreek by die Rietsee. Hulle het toe na die Surwoestyn getrek. Hulle het drie dae lank deur die woestyn getrek, maar hulle kon nie ’n plek kry waar daar water was nie.

23. Van daar af het hulle na ’n plek gegaan met die naam Mara. Daar was wel water, maar hulle kon dit nie drink nie. Die water was brak en het bitter gesmaak. Dis hoekom die plek Mara (dit beteken “bitter”) genoem word.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 15