Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 13:10-22 Die Boodskap (DB)

10. Julle moet aan hierdie voorskrif vashou sodat julle elke jaar op die tyd wat bepaal is, hierdie fees vir die Here kan vier.

11. “Die Here het die land van die Kanaäniete aan julle voorouers belowe. Wanneer die Here julle dan by daardie land laat aankom en Hy dit vir julle gee,

12. moet julle alles wat manlik is waaraan ’n ma geboorte gegee het, vir die Here gee. Die eerste manlike dier wat gebore word, moet julle vir die Here gee.

13. As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil vir ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Wanneer dit ’n mens is, moet jy jou oudste seun vir iets anders omruil.

14. Wanneer jou seun jou later op ’n dag vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet jy hom antwoord: ‘Omdat die Here ons met sy krag bevry het van die slawewerk wat ons in Egipte moes doen.

15. Die farao het botweg geweier om ons te laat weggaan uit Egipte. Die Here het sy hand laat uitgaan teen almal in Egipte wat eerste gebore is. Hulle het doodgegaan, mens en dier. Dit is hoekom ek al die eerste manlike wesens wat ’n ma in die wêreld bring, aan die Here offer. Hulle behoort aan Hom. Ek kan egter my oudste seun weer terugkoop.

16. Dit is soos ’n merk in jou hand en ’n teken op jou voorkop wat jou daaraan herinner dat die Here die Almagtige ons met krag uit Egipte laat wegtrek het.”

17. Toe die farao uiteindelik instem om die volk te laat gaan, het die Here hulle nie kortpad al langs die see na die land van Filistyne laat trek nie. As hulle met daardie pad langs getrek het, kon hulle in gevegte met ander mense beland het, wat hulle so sou kon laat skrik dat hulle sommer kortom sou vlug terug Egipte toe.

18. God het eerder die volk laat wegdraai om met die pad langs te trek wat na die Rietsee toe gaan.Die Israeliete het hulleself in groepe gerangskik en op ’n ordelike manier uit Egipte uit weggegaan.

19. Moses het Josef se liggaam saamgevat. Josef het die Israeliete destyds plegtig laat belowe dat hulle sy liggaam saam met hulle sal vat wanneer die Here hulle weer na hulle land laat teruggaan.

20. Hulle het van Sukkot af weggegaan en by Etam op die rand van die woestyn gaan kamp opslaan.

21. Die Here self het voor hulle uitgegaan. In die dag het Hy vir hulle die pad gewys met ’n hoë wolk wat voor hulle uitgaan. In die nag was daar ’n bol vuur in die lug wat vir hulle lig gegee het. Hulle kon dag en nag verder trek.

22. Die wolk in die dag het nooit weggegaan nie en die vuurbol het altyd in die nag daar gebly.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 13