Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 1:11-17 Die Boodskap (DB)

11. Die farao het toe manne oor die Israeliete aangestel wat hulle gedwing het om die werk te doen wat onbetaalde slawe doen. Die farao, soos die koning van Egipte genoem is, het die Israeliete gebruik om vir hom die twee stede Pitom en Rameses te bou waar hy voorrade kon wegbêre.

12. Die plan het egter geboemerang. Hoe swaarder die farao hulle laat werk het, hoe meer het die Israeliete geword en op al meer plekke gaan bly. Dit het die Egiptenaars net al hoe banger vir die Israeliete laat word.

13. Die Egiptenaars het die Israeliete hardhandig begin behandel

14. en die lewe vir hulle bitter swaar gemaak. Hulle het die Israeliete gedwing om die swaar slawewerk te doen. Hulle moes klei uitgrawe en daarvan bakstene maak, bouklippe kap en op die landerye werk.

15. Die koning van Egipte het Sifra en Pua, die Hebreërs se kraamverpleegsters, probeer dwing om iets leliks te doen.

16. Hy wou hê hulle moes daarvoor sorg dat die seuntjies van die Hebreërs se vroue nie bly lewe nie. Wanneer hulle die vroue help om hulle kinders in die wêreld te bring, moes hulle die seuntjies laat doodgaan. As dit dogtertjies was, kon hulle bly lewe.

17. Omdat hierdie twee verpleegsters respek vir God gehad het, het hulle nie gedoen wat die farao gesê het nie. Hulle het die seuntjies ook laat bly lewe.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 1