Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 6:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Moses het weer vir die volk gesê: “Hier is die wet en die voorskrifte wat die Here gesê het ek vir julle moet leer. Leef daarvolgens in die land wat julle binnekort gaan binnegaan.

2. Jou hele lewe lank moet jy die Here liefhê en sy wil uitleef. Jy en jou nageslag moet dit doen sodat julle lank kan leef en oud kan word.

3. Israel, luister altyd na die Here se gebooie en gehoorsaam dit. Dan sal jy ’n groot nasie word, soos die Here destyds al vir jou voorvaders beloof het. En jy sal lekker in die mooi en vrugbare land leef.

4. “Israel, onthou altyd dat die Here en net die Here alleen ons God is.

5. Jy moet die Here jou God met alles binne-in jou, ja, met jou hele wese liefhê.

6. Al die woorde wat ek jou vandag leer, moet jy in jou hart bêre en altyd daaraan dink.

7. Jy moet ook jou kinders daarvan vertel en jy moet oral daaroor praat. Of jy nou in jou huis sit, of jy op pad is, of jy ’n bietjie gaan lê of weer opstaan, jy moet altyd dink oor wat die Here van jou vra.

8. Maak sy voorskrifte aan jou arms vas en bind dit styf vas om jou voorkop.

9. Skryf dit op jou huis se deurkosyne en op die groot hekke van die stad.”

10. “Wanneer die Here julle in die land bring wat Hy lank gelede al aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, sal julle in mooi, groot stede woon; stede wat julle nie self gebou het nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 6