Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:14-24 Die Boodskap (DB)

14. maar op die sewende dag moet jy rus. Dit is ’n dag wat eenkant gesit word vir spesiale diens aan die Here. Op hierdie dag moet niemand werk nie: nie jy nie, ook nie jou kinders, jou werkers, jou diere of die vreemdelinge wat by jou inwoon nie. Al jou werkers moet saam met jou op die sabbat rus.

15. Op dié dag moet jy daaraan dink dat jy self ’n slaaf in Egipte was wat elke dag hard gewerk het, maar dat die Here jou op ’n wonderlike manier daar kom wegvat het. Dit is hoekom jy op die sabbat moet rus en al jou werkers saam met jou.

16. ‘Jy moet jou pa en jou ma liefhê en na hulle luister, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou. Dan sal jy lank lewe. Dan sal dit met jou goed gaan in die land wat die Here jou God aan jou wil gee.

17. ‘Jy moet niemand doodmaak nie.

18. ‘Jy moenie ontrou aan jou huweliksmaat wees en by iemand anders slaap nie.

19. ‘Jy moet niks van iemand steel nie.

20. ‘Jy moenie slegte dinge oor ander mense rondvertel nie.

21. ‘Jy moenie ’n ander man se vrou begeer en haar vir jouself wil hê nie. Ook nie sy huis, sy grond, sy werkers, sy diere of enigiets anders wat syne is nie.’

22. “Hierdie is die Here se spesiale voorskrifte. Hy het dit vir julle by Horeb gegee toe julle destyds daar bymekaar was. Eers het Hy met ’n harde stem uit die vuur en die donker rookwolke met julle gepraat. Toe het Hy stilgebly en alles op twee plat klippe neergeskryf en dit vir my gegee.”

23. Moses het toe vir die mense gesê: “Nadat julle die stem van die Here by Horeb gehoor het, het al julle leiers na my toe gekom en gesê:

24. ‘Luister, Moses, toe die Here hier by die berg met ons uit die vuur gepraat het, het ons sy grootsheid en almag gevoel. Vandag het ons self gesien dat die Here direk met mense kan praat en dat hulle daarna nog kan bly leef.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5