Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4:28-46 Die Boodskap (DB)

28. Daar sal hulle julle verplig om ander gode te dien, gode wat mense van hout en klip gemaak het, maar wat nie kan hoor of sien of ruik nie.

29. “Dan sal julle weer na die Here begin verlang. En as julle Hom met alles in julle soek, sal julle Hom vind.

30. As al hierdie verskriklike dinge met julle gebeur en dit met julle sleg gaan, maar julle draai terug na die Here toe, móét julle opnuut na Hom luister.

31. Onthou, die Here is ’n God wat oorloop van goedheid. Hy sal julle nie sommer los of weggooi nie. Hy wil nog steeds die liefdesverbond wat Hy al met julle voorvaders gesluit het, in ere hou.”

32. “Julle moet ’n bietjie na die geskiedenis kyk, na daardie tyd toe die Here die hemel en die aarde gemaak het. En dan moet julle vra of dit al ooit gebeur het

33. dat ’n volk ’n god in ’n vuur hoor praat het en bly leef het.

34. En of daar al ooit ’n god was wat sy eie volk tussen ’n ander volk gaan uithaal het soos die Here met julle in Egipte gedoen het. En of daar al ooit ’n volk was wat sulke wonders en grootse dade soos julle gesien het.

35. Julle het gesien wat die Here met sy groot krag kan doen. Niks staan in sy pad nie. Hy het al hierdie dinge gedoen sodat julle eens en vir altyd kan glo dat die Here alleen God is. Daar is geen ander God behalwe die Here nie.

36. Hy het uit die hemel met julle gepraat en julle geleer hoe om reg te leef. Hier op aarde het julle Hom uit ’n groot vuur hoor praat.

37. Omdat God vir julle voorouers lief was, het Hy julle gekies en het Hy julle op ’n wonderlike manier uit Egipte laat wegtrek.

38. Verder het Hy volke wat baie groter en sterker as julle was, voor julle uitgedryf sodat julle in ’n mooi en goeie land kan gaan woon.

39. Onthou dan nou dat die Here die enigste God in die hemel en op die aarde is. Daar is geen ander God soos Hy nie.

40. Julle moet vandag besluit om altyd volgens die wette en voorskrifte te leef wat ek julle nou gaan gee. Dan sal dit met julle en julle kinders goed gaan. En julle sal ook vir altyd baie gelukkig in die land bly wat die Here vir julle gaan gee.”

41. Voordat Moses verder met die volk gepraat het, het hy eers drie stede aangewys as veilige stede.

42. Iemand kon daarheen vlug as hy ’n persoon per ongeluk en sonder dat hy daardie persoon haat, doodgemaak het. In daardie stede sou so iemand dan veilig wees.

43. Vir die stam van Ruben is die stad Beser, ’n plek in die woestyn, gekies. Vir Gad is Ramot in Gilead en vir Manasse Golan in Basan aangewys.

44. Moses het toe die wet vir Israel gegee.

45. Dit was al die gebooie en voorskrifte waarvolgens hulle moes leef.

46. Hy het dit baie jare na die uittog uit Egipte gedoen terwyl hulle oos van die Jordaan in die Bet-Peorvlakte gekamp het. Bet-Peor het eers aan die Amoritiese koning, Sihon wat in Gesbon gewoon het, behoort. Moses en die Israeliete het hom egter verslaan.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 4