Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4:23-38 Die Boodskap (DB)

23. Julle moenie nou die Here vergeet en julle verhouding met Hom afskeep nie. Julle moet nooit ’n beeld van die Here probeer maak nie, want Hy het dit uitdruklik verbied.

24. Onthou, die Here is soos ’n vuur wat alles vernietig. Hy duld geen afgode nie.

25. “Selfs julle kinders en kleinkinders moenie later ’n beeld van iets maak en dit aanbid nie. Dit is verkeerd en so word die Here se groot Naam baie skade aangedoen.

26. Vandag is die hemel en die aarde getuie daarvan dat ek julle gewaarsku het. As julle ’n beeld maak, sal julle uit hierdie land verdwyn. Julle en julle kinders sal dan nie vir altyd in die land bly woon waarheen julle nou op pad is nie. Julle sal vir seker uitgewis word.

27. Die Here sal julle tussen die ander volke verstrooi. Net ’n paar van julle sal oorleef.

28. Daar sal hulle julle verplig om ander gode te dien, gode wat mense van hout en klip gemaak het, maar wat nie kan hoor of sien of ruik nie.

29. “Dan sal julle weer na die Here begin verlang. En as julle Hom met alles in julle soek, sal julle Hom vind.

30. As al hierdie verskriklike dinge met julle gebeur en dit met julle sleg gaan, maar julle draai terug na die Here toe, móét julle opnuut na Hom luister.

31. Onthou, die Here is ’n God wat oorloop van goedheid. Hy sal julle nie sommer los of weggooi nie. Hy wil nog steeds die liefdesverbond wat Hy al met julle voorvaders gesluit het, in ere hou.”

32. “Julle moet ’n bietjie na die geskiedenis kyk, na daardie tyd toe die Here die hemel en die aarde gemaak het. En dan moet julle vra of dit al ooit gebeur het

33. dat ’n volk ’n god in ’n vuur hoor praat het en bly leef het.

34. En of daar al ooit ’n god was wat sy eie volk tussen ’n ander volk gaan uithaal het soos die Here met julle in Egipte gedoen het. En of daar al ooit ’n volk was wat sulke wonders en grootse dade soos julle gesien het.

35. Julle het gesien wat die Here met sy groot krag kan doen. Niks staan in sy pad nie. Hy het al hierdie dinge gedoen sodat julle eens en vir altyd kan glo dat die Here alleen God is. Daar is geen ander God behalwe die Here nie.

36. Hy het uit die hemel met julle gepraat en julle geleer hoe om reg te leef. Hier op aarde het julle Hom uit ’n groot vuur hoor praat.

37. Omdat God vir julle voorouers lief was, het Hy julle gekies en het Hy julle op ’n wonderlike manier uit Egipte laat wegtrek.

38. Verder het Hy volke wat baie groter en sterker as julle was, voor julle uitgedryf sodat julle in ’n mooi en goeie land kan gaan woon.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 4