Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4:1-15 Die Boodskap (DB)

1. “Israel, luister na al die wette en voorskrifte wat ek julle leer. As julle dit alles doen, sal julle bly leef en die land inneem wat die Here lank terug al aan julle voorvaders beloof het.

2. Moet niks bysit by hierdie wette nie en moet ook niks daarvan weglaat nie. Leef voluit volgens die Here se wil.

3. “Julle het immers self gesien wat by Baäl-Peor gebeur het. Elkeen wat Baäl aanbid het, is deur die Here vernietig.

4. Almal van julle wat egter die Here bly dien het, leef vandag nog.

5. Al die wette en voorskrifte wat die Here vir my gegee het, het ek julle geleer. Leef daarvolgens waar julle ook al dalk aan die westekant van die Jordaan woon.

6. As julle die wil van die Here gehoorsaam, sal die ander volke julle bewonder. As hulle al hierdie wette hoor, sal hulle sê: ‘Hierdie groot nasie is ’n baie slim en verstandige volk.’

7. Geen ander nasie het ’n god wat so naby aan sy volk is soos die Here ons God aan ons is nie. Elke keer as ons bid, help Hy ons.

8. Geen ander nasie, hoe groot en belangrik hulle ook al is, het sulke goeie en regverdige wette soos ons nie. En dit is hierdie wette wat ek vandag vir julle wil leer.”

9. “Sorg dat julle nooit die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie. Julle moet dit lewenslank onthou en daaroor nadink. En julle moet ook vir julle kinders en kleinkinders daarvan vertel.

10. Julle moet hulle van daardie dag by Horeb vertel toe die Here baie naby aan julle gekom het. Dié dag toe die Here vir my gesê het: ‘Laat almal bymekaarkom. Ek wil hulle my wil leer sodat hulle My lewenslank sal liefhê en ook vir hulle kinders van My sal vertel.’

11. “Vertel hulle hoe julle nader aan die berg se voet geskuifel het en hoe die berg daardie dag só gebrand het dat alles rondom julle pikdonker was van die borrelende rookwolke.

12. En julle moet ook vertel hoe die Here in die vuur met julle gepraat het. Julle het mos net ’n stem gehoor, maar niemand gesien nie.

13. Hy het julle vertel hoe sy eie volk Hom altyd lief moet hê. Daarom het Hy hierdie tien voorskrifte vir julle op twee klippe geskryf.

14. Die Here het vir my in dié tyd gesê ek moet julle al sy wette leer sodat julle sal weet hoe julle in die nuwe land waarheen julle op pad is, moet leef.

15. Toe die Here met julle by Horeb uit die vuur gepraat het, het julle niks gesien nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 4