Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 30:15-20 Die Boodskap (DB)

15. “Maar luister nou baie mooi. Ek stel julle vandag voor die keuse. Julle kan self kies. Julle moet kies wat julle wil hê. Wil julle hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, of kies julle vandag teëspoed? Kies tussen lewe en dood!

16. Ek het vandag mos vir jou gesê wat jy moet doen. Jy moet die Here jou God liefhê. Jy moet Hom eerste in jou lewe stel. En jy moet noukeurig alles doen wat Hy sê jy moet doen. Jy moet agter Hom aanloop. As jy dit doen, sal jy lewe. Die Here sal jou voorspoedig maak. Jy sal ’n groot nasie word. En die Here sal dit met jou goed laat gaan in die land wat Hy vir jou gaan gee. Jy staan op die punt om hierdie land vir jou te vat.

17. “Maar jy kan dalk vandag kies om in die teenoorgestelde rigting te loop. Jy weier om na die Here te luister. Jy gaan soek vir jou afgode en jy buig voor hulle neer.

18. Dan waarsku ek jou vandag dat die Here jou definitief gaan vernietig. Dit sal sleg met jou gaan. Jy sal nie baie lank in hierdie goeie land bly nie.

19. “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders.

20. Kies tog vandag om die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe. Laat Hy die rede wees hoekom jy lewe. Dan sal jy oud word en lank lewe in die land wat die Here belowe het om vir jou te gee. Hy het lank terug al vir Abraham, Isak en Jakob belowe dat Hy hierdie land vir jou sal gee.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 30