Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 29:3-18 Die Boodskap (DB)

3. Die Here het sy groot krag gewys toe Hy julle gered het. Hy het baie groot wonders gedoen.

4. Maar tot vandag toe het die Here nie vir julle verstand gegee sodat julle kan verstaan nie, of oë sodat julle kan sien of ore sodat julle kan hoor nie!

5. Vir 40 jaar het ek julle deur die woestyn gelei. Het julle nie agtergekom dat julle skoene nie uitgetrap raak en julle klere nie stukkend gaan nie?

6. Julle het nie brood gehad om te eet of wyn of ander sterk drank gehad om te drink nie. Die Here het self vir julle kos gegee. Hy het dit gedoen sodat julle kon leer dat Hy, en Hy alleen, die Here julle God is.

7. “Toe ons hier in Kanaän aanland, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan opgetrek en teen ons kom veg. Maar ons het hulle verslaan.

8. Ons het hulle land gevat en vir die stamme van Ruben en Gad gegee, en vir die een helfte van die stam van Manasse. Hulle het hierdie grond geërf.

9. “Daarom moet julle nou stiptelik alles doen wat die Here julle beveel het. As julle dit doen, sal julle voorspoedig wees in alles wat julle aanpak.

10. Julle staan vandag almal voor die Here julle God. Julle leiers en julle landdroste en julle offisiere, almal wat aan Israel behoort, is hier.

11. Saam met julle is julle kinders en julle vroue en die vreemdelinge wat by julle is om vir julle te werk.

12. Julle staan vandag hier om ’n ooreenkoms met die Here julle God aan te gaan. Die Here sluit hierdie ooreenkoms vandag met julle. Hy belowe dat Hy sal doen wat Hy in die ooreenkoms onderneem om te doen.

13. Hy wil julle vandag as sy eie volk aanneem. Hy wil julle God wees. Hy het immers belowe dat Hy dit sal doen. Ja, Hy het al vir Abraham en Isak en Jakob belowe dat Hy dit gaan doen.

14. Maar julle is nie die enigste mense met wie Hy hierdie ooreenkoms vandag aangaan nie.

15. Die Here sluit hierdie ooreenkoms met almal wat vandag hier voor Hom staan, maar ook met al julle kleinkinders en agterkleinkinders.”

16. “Jy mag nooit vergeet hoe jy in Egipte geleef het nie. En jy mag ook nie vergeet hoe jy deur die lande van al die ander nasies getrek het nie, al die nasies wat jou vyande was.

17. Julle het gesien watter afskuwelike afgode hulle dien. Hulle maak vir hulleself afgode van hout en klip en silwer en goud.

18. Die Here bepaal in hierdie ooreenkoms wat Hy vandag met jou sluit dat geen man of vrou of enige stam van Israel ooit mag wegdraai van die Here julle God om voor sulke afgode te gaan buig nie. Julle mag nie toelaat dat daar in julle midde ’n wortel opskiet wat ’n giftige vrug dra nie. Dit is wat sal gebeur as julle die ander nasies se afgode dien.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 29