Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 29:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Julle staan vandag hier om ’n ooreenkoms met die Here julle God aan te gaan. Die Here sluit hierdie ooreenkoms vandag met julle. Hy belowe dat Hy sal doen wat Hy in die ooreenkoms onderneem om te doen.

13. Hy wil julle vandag as sy eie volk aanneem. Hy wil julle God wees. Hy het immers belowe dat Hy dit sal doen. Ja, Hy het al vir Abraham en Isak en Jakob belowe dat Hy dit gaan doen.

14. Maar julle is nie die enigste mense met wie Hy hierdie ooreenkoms vandag aangaan nie.

15. Die Here sluit hierdie ooreenkoms met almal wat vandag hier voor Hom staan, maar ook met al julle kleinkinders en agterkleinkinders.”

16. “Jy mag nooit vergeet hoe jy in Egipte geleef het nie. En jy mag ook nie vergeet hoe jy deur die lande van al die ander nasies getrek het nie, al die nasies wat jou vyande was.

17. Julle het gesien watter afskuwelike afgode hulle dien. Hulle maak vir hulleself afgode van hout en klip en silwer en goud.

18. Die Here bepaal in hierdie ooreenkoms wat Hy vandag met jou sluit dat geen man of vrou of enige stam van Israel ooit mag wegdraai van die Here julle God om voor sulke afgode te gaan buig nie. Julle mag nie toelaat dat daar in julle midde ’n wortel opskiet wat ’n giftige vrug dra nie. Dit is wat sal gebeur as julle die ander nasies se afgode dien.

19. Niemand wat vandag na my luister, moet dink dat hy nie kan afdwaal nie. Jy moenie gerus word en dink jy is op die regte pad nie. Jy moenie dink alles is reg nie, al loop jy jou eie pad en al doen jy net wat jy wil. Jy sal nie vrede hê nie. Nee, jy gaan vir seker vernietig word. Die Here sal jou straf. Jy sal baie swaarkry.

20. Die Here sal sulke mense nie verskoon nie. Hy sal woedend wees oor hulle slegte dade. Hy gee immers om vir sy mense. Hy het hulle so lief dat Hy hulle net vir Homself wil hê. Al die teëspoed en moeilikheid wat in hierdie boek opgeteken is, sal sulke mense tref. Die Here sal hulle vernietig. Niemand sal eens agterna weet dat daar sulke mense soos hulle was nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 29