Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 18:1-8 Die Boodskap (DB)

1. “Onthou dat die Here nie vir die mense wat in sy huis werk, die nageslag van Levi, grond gegee het om op te boer nie. Hy het vir al die ander stamme van Israel grond gegee, maar nie vir hulle nie. In plaas daarvan dat hulle grond kry om op te boer, gee Hy vir hulle die offers wat julle na sy huis toe bring om daar te verbrand as julle Hom dien. Dit is waarvan hulle moet leef.

2. Hulle het niks anders wat hulle erf nie. Hulle besit self niks nie. Die Here self is al wat hulle erf. So het Hy vir hulle belowe: Hy sal vir hulle sorg.

3. “Die mense wat in sy huis werk, mag die volgende van die beeste en skape kry wat julle as julle offers na sy huis toe bring om vir Hom geoffer te word: die skouer, kakebeen en pens van elke dier.

4. Jy moet ook vir hierdie mense die beste deel, die eerste deel van die koring wat van jou land af kom, gee, asook van die wyn wat jy maak. Jy moet ook vir hulle ’n deel gee van die olie wat jy maak en die wol wanneer jy jou skape skeer.

5. Want die Here het hierdie mense, die kinders van Levi, gekies om in sy huis te werk. Hulle moet vir altyd werk waar Hy teenwoordig is. Hulle kinders en kleinkinders moet ook in my huis werk.

6. “Enige mens wat aan die stam van Levi behoort en in een van die dorpe van Israel bly, mag in sy huis kom werk as hy wil. Sy huis is die plek wat Hy gekies het om in te woon.

7. Daar mag hy dan werk waar Hy teenwoordig is, net soos die ander kinders van Levi wat daar werk en die Here hulle God dien.

8. As hy in die Here se huis werk, moet hy ook sy deel kry van die offers sodat hy daarvan kan lewe. Selfs as hy genoeg het om vir homself te sorg, moet hy ’n deel van die offers kry.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 18