Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:9-22 Die Boodskap (DB)

9. Moses het vir die volk gesê: “Julle sal nog onthou hoe ek by Horeb vir julle gesê het dat ek julle nie alleen kan help of lei nie.

10. Die Here julle God het julle ’n groot volk gemaak. Ja, julle is al so baie soos die sterre aan die hemel.

11. Mag die Here julle nog duisendvoudig vermeerder soos Hy julle voorouers beloof het. En mag julle almal ryk en gelukkig wees.

12. Julle probleme het egter vir my te swaar geword. Ek alleen kan tog nie met al julle daaglikse probleme en hofsake help nie.

13. Toe het ek vir julle gesê om verstandige en ervare mans uit elke stam van die volk aan te stel. Hulle moes julle dan lei en help.

14. En julle het ingestem.

15. Ek het toe mos hierdie verstandige en ervare mense as stamleiers aangestel. Hulle moes julle met die administrasie en die organisasie van die stamme help. Sommige het ek oor 1 000 mense, ander oor 100, 50 of tien mense aangestel. Vir elke stam was daar ook ’n sekretaris.

16. “Destyds het ek vir die regters gesê om altyd fyn na elkeen se saak te luister. Al was dit maar net ’n saak tussen ’n man en sy broer of die vreemdeling wat by hom woon, moes die regters regverdig oordeel.

17. Hulle moes altyd onpartydig wees. Klein en groot moes billik verhoor word. Regters moes vir niemand bang wees nie, want die Here was by hulle. En as daar moeilike sake was, moes hulle dit na my toe bring.

18. “In daardie tyd toe ons nog by Horeb was, het ek julle ook nog ander voorskrifte gegee waarvolgens julle moes lewe.”

19. “Die Here het toe gesê ons moet van Horeb af weggaan. Ons het toe ons goed gevat en deur die groot en verskriklike woestyn na die land Kanaän getrek. En so het ons by Kades-Barnea aangekom.

20. Daar het ek vir julle gesê dat ons by die berge van die Amoriete in Kanaän aangekom het en dat die Here ons God dit aan ons wil gee.

21. ‘Kyk,’ het ek gesê, ‘die Here julle God het hierdie land aan julle gegee. Trek in en vat dit vir julle. Dit is wat die Here, die God van julle voorvaders, wil hê julle moet doen. En moenie bang wees nie. Trek net in.’

22. “Julle het egter na my toe gekom en gesê ons moet eers mense instuur om die land te gaan verken. Hulle moes ons van die roetes vertel en van die stede wat ons langs die pad gaan kry.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1