Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 7:8-26 Die Boodskap (DB)

8. Terwyl ek nog besig was om my aan die horings te verstom het ek gesien hoe daar ’n ander, kleiner horing tussen die horings uitkom. Drie ander horings is wortel en al uitgeruk om plek te maak vir hierdie horinkie. Hierdie horing het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond waarmee hy allerhande arrogante dinge gesê het.

9. “Ek het ook gesien hoe daar trone reggesit word. Die Een wat vir ewig lewe, het op een van die trone gaan sit om as regter op te tree. Sy klere was so wit soos sneeu en sy hare so wit soos suiwer wol. Sy troon het vier vlammende wiele gehad en was omring deur vuur.

10. Die vuur het soos ’n rivier uit die troon uit gestroom. Miljoene engele het Hom bedien en daar het miljoene der miljoene mense voor sy troon gestaan. Toe het die hofsitting begin en die boeke is oopgemaak waarin al die aanklagte opgeteken is.

11. “Die klein horinkie was nog steeds besig om allerhande grootpraterige goed te sê. En toe ek weer kyk, sien ek hoe die vierde dier doodgemaak word en sy liggaam in die vuur verbrand word.

12. Ook die ander drie diere se krag is van hulle af weggevat, maar hulle lewe is vir nog ’n klein rukkie gespaar.

13. “My visioen het voortgegaan. Daar in die wolke het ek iemand sien aankom. Hy het soos ’n mens gelyk. Hy het na die Een toe gegaan wat vir altyd lewe. Hierdie mens is geroep om by sy troon te gaan staan.

14. Aan hierdie mens is al die mag en die eer en die koningskap gegee, sodat al die volke, nasies en tale van die wêreld hom sou dien. Daar sal nooit ’n einde aan sy heerskappy wees nie. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.”

15. “Hierdie visioen het my verskriklik ontstel; dit het my baie bang gemaak.

16. Ek het toe na een van dié wat langs God se troon gestaan het, gegaan en vir hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe so vir my verduidelik:

17. die vier groot diere is die vier groot wêreldmagte wat op die aarde sal heers.

18. Maar op die ou end sal die mense wat aan die Allerhoogste behoort, as konings heers en hulle sal vir ewig regeer.

19. “Ek wou toe meer weet van die vierde dier wat so anders as die ander lyk. Daardie skrikwekkende dier het sy slagoffers met sy ystertande opgevreet en met bronskloue vermorsel, en wat oorgebly het, verder onder sy pote vertrap.

20. Ek het ook gevra oor die betekenis van die tien horings op sy kop, en ook oor die klein horinkie wat agterna uitgekom het en toe drie van die ander horings uitgeruk het. Dit is die een wat later groter geword het as die ander. Dit het oë gehad soos ’n mens en ’n mond wat verskriklik grootgepraat het.

21. Terwyl ek besig was om te kyk het hierdie horing begin oorlog maak teen die mense wat aan God behoort het. Hy was besig om hulle te wen,

22. totdat die Een wat vir altyd lewe, gekom en ingetree het vir die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Toe het die tyd aangebreek vir hierdie mense om as konings te regeer.

23. “Hy het dit so vir my verklaar: die vierde dier is ’n vierde wêreldmag wat op aarde sal kom, maar wat totaal anders as al die ander sal wees. Dit sal die hele wêreld probeer inneem en sal alles platvee wat in sy pad kom.

24. Die tien horings is tien konings wat die een na die ander in hierdie wêreldmag sal regeer. Na hulle tyd sal daar ’n ander koning kom wat heeltemal anders as die voriges is. Hy sal drie van die konings verslaan en oor hulle heers.

25. Hy sal vieslike dinge teen die Allerhoogste sê en die mense wat aan die Allerhoogste behoort, onderdruk en bitter swaar laat ly. Hy sal sy bes doen om hulle godsdienstige voorskrifte en feeste te verander. Hy sal vir ’n vasgestelde tyd oor die mense van die Allerhoogste regeer.

26. “Dan sal die hemelse hof besluit genoeg is genoeg, en die oordeel oor hom uitspreek. Hulle sal al sy mag van hom af wegneem en hom totaal en al vernietig.

Lees volledige hoofstuk Daniël 7