Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6:15-29 Die Boodskap (DB)

15. Toe die koning dit hoor, was hy ontsteld omdat hy die bevel geteken het. Hy het die res van die dag bestee om ’n manier te probeer kry om vir Daniël uit hierdie situasie te red.

16. Teen die aand se kant het die klomp weer na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit besef natuurlik dat volgens die wet van Meders en Perse geen bevel van die koning verander kan word nie.”

17. Die koning moes toe maar die opdrag gee om Daniël te arresteer en in die leeukuil te gooi. Hy sê toe vir Daniël: “Mag jou God wat jy so getrou dien, jou red.”

18. Hulle het ’n klip gaan haal en dit oor die opening van die plek gesit waar die leeus was. Daarna het die koning sy amptelike seël en ook dié van sy hooggeplaaste amptenare op die klip aangebring. So is Daniël se lot beseël.

19. Die koning is terug paleis toe, waar hy ’n slapelose nag deurgebring het, sonder kos of enige ander tydverdryf.

20. Vroeg die volgende môre het die koning opgestaan en vinnig na die leeukuil toe gegaan.

21. Daar aangekom, het hy benoud geroep: “Daniël, dienaar van die lewende God! Was jou God wat jy so getrou dien, in staat om jou van die leeus te red?”

22. Daniël antwoord toe: “Mag die koning nog lank lewe!

23. My God het sy engel gestuur om die leeus se bekke toe te hou sodat hulle my niks kon aandoen nie. Hy het dit gedoen omdat Hy weet dat ek onskuldig is. Ek het nie teen Hom gesondig nie en ook niks verkeerds teen U Majesteit gedoen nie.”

24. Hieroor was die koning baie bly. Hy het dadelik opdrag gegee dat Daniël uit die leeukuil opgetrek moes word. Nadat die mense Daniël uit die leeukuil gehaal het, het hulle gesien dat daar nie ’n enkele merk aan hom was nie. Dit was so omdat hy op sy God vertrou het.

25. Daarna het die koning beveel dat die mense wat Daniël by hom aangekla het, saam met hulle families gevang moes word. Hulle en hulle families is toe saam in die leeukuil gegooi. Hulle het skaars grond geraak of die leeus was op hulle, besig om hulle te verskeur.

26. Daarna het koning Darius die volgende boodskap aan al die volke, nasies en taalgroepe van die wêreld gestuur: “Vrede en voorspoed vir julle!

27. Ek beveel dat die God van Daniël in my hele koninkryk geëer en gerespekteer moet word. Hy is die lewende God en Hy bestaan vir ewig en altyd. Sy koninkryk sal nooit tot ’n einde kom nie, sy heerskappy sal vir altyd aanhou.

28. Hy red en verlos sy mense; Hy doen bonatuurlike tekens en wonders in die hemel en op die aarde. Dit is Hy wat vir Daniël bewaar het sodat die leeus niks aan hom gedoen het nie.”

29. Daniël was baie voorspoedig tydens die regerings van Darius en die Persiese koning Kores.

Lees volledige hoofstuk Daniël 6