Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:20-33 Die Boodskap (DB)

20. “Prys God se Naam nou en vir altyd, Hy alleen het al die kennis en mag.

21. Hy bepaal die koers van alles en almal in die wêreld; Hy haal konings uit hulle magsposisies uit en stel ander in hulle plek aan. Hy gee kennis en insig.

22. Hy maak geheime dinge bekend; Hy weet wat in die donker gebeur, maar Hyself word deur die lig omring.

23. Ek loof en prys U, God van my voorouers, U het vir my kennis en mag gegee en na my gebed geluister. U het vir ons gewys wat om vir die koning te sê.”

24. Daniël is toe daar weg na Arjok toe wat die opdrag gehad het om al die koninklike raadgewers dood te maak. Hy sê toe vir hom: “Moenie die raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe. Ek sal sy droom se betekenis vir hom verduidelik.”

25. Arjok het dadelik vir Daniël na koning Nebukadnesar toe gevat en vir hom gesê: “Ek het tussen die Judese gevangenes iemand gekry wat U Majesteit se droom kan verduidelik.”

26. Die koning het vir Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, gevra: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?”

27. Daniël het geantwoord: “Daar is geen raadgewer, waarsêer of sterrevoorspeller wat in staat is om te doen wat u verwag nie.

28. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime bekend kan maak. Hy het in die droom aan u, koning Nebukadnesar, kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Daarom sal ek nou vir u vertel wat die gesig beteken wat u in u droom gesien het.

29. “Terwyl U Majesteit geslaap het, het u oor die toekoms gedroom. God wat sulke geheime bekend kan maak, het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur.

30. Nou, die rede waarom ek u droom kan uitlê, is nie omdat ek slimmer is as enige ander mens nie, maar omdat God wou hê dat u moet weet wat die betekenis van die droom was. U moet verstaan waaroor u gedink het.

31. “U Majesteit het in u droom ’n groot beeld gesien wat voor u staan. Dit was hoog en blink; iets skrikwekkends.

32. Die beeld se kop was van soliede goud; sy bors en arms van silwer en sy maag en heupe van brons;

33. sy bene was van yster. Sy voete was een deel van yster en ’n ander deel van klei gemaak.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2