Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Hy sal baie trots en vol van homself wees oor sy oorwinning en oor al die vyande wat hy doodgemaak het. Maar sy oorwinning sal van korte duur wees.

13. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land toe en vir hom nog ’n groter leër as die vorige keer bymekaarmaak. Later sal hy terugkom, maar hierdie keer met ’n baie sterker leër as voorheen.

14. Baie mense sal dan in opstand kom teen die koning van die suide. Selfs van jou eie volk se rebelle sal daaraan deelneem. Maar hulle gaan in die moeilikheid beland.

15. Dan sal die koning van die noorde een van die hoofstede omsingel, die mense uithonger en dit later inneem. Alhoewel die troepe van die suide baie dapper sal veg, sal hulle nie kan uithou nie. Selfs nie eers hulle beste soldate sal sterk genoeg wees nie.

16. Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil en niemand sal in sy pad staan nie. Hy sal ook in die Beloofde Land intrek en dit oorneem.

17. Hy sal planne maak om sy volle weermag teen die koning van die suide te gebruik om hom te verslaan. As deel van die plan sal hy met die koning van die suide ’n ooreenkoms sluit en selfs sy dogter met hom laat trou. Maar hierdie plan sal nie slaag nie.

18. Dan sal die koning van die noorde die kusgebiede inneem. Maar ’n sterk leier van ’n ander gebied sal ’n einde maak aan sy arrogante optrede. Hy sal hom in eie munt terugbetaal.

19. Hierna sal die koning van die noorde na sy eie land toe teruggaan as ’n verslane man. Dit sal sy einde wees.

20. Sy opvolger sal ’n belastingbeampte aanstel wat die koning sal verryk. Hy sal nie baie lank regeer voordat hy doodgemaak word nie. Dit sal nie as gevolg van oorlog of ’n openbare verhoor wees nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11